Koffie en klets

Heg waarde aan mekaar

Desember beteken vir ‘n groot hoeveelheid mense familie, feesvieringe en reis na ‘n plek weg van die huis af om te gaan ontlaai. Ander verkies Jan Tuisbly se karretjie, juis omdat dit so besig is op strande en die paaie nie ‘n veilige omgewing is nie. Die spreekwoord lui: Jou huis is waar jou hart is. Hoe nou gemaak?
My klets haak by waardering en die dinge waaraan ons waarde heg, vas.
Dit is ‘n feit dat waaraan ons waarde heg, van mens tot mens verskil. Dit kan amper aanhaak by die 5 liefdestale van mense: fisiese aanraking, gee van geskenke, kwaliteit tyd, opbouende woorde en dade van diensbaarheid.
Wanneer die vraag aan iemand gevra word oor waaraan hul waarde heg wanneer dit by die kies van vriende kom, dan wissel die antwoorde van, iemand met ‘n sin vir humor, iemand wat respekvol is, wat luister, wat moeite sal doen om my te verstaan of iemand wat die Vader ken. Honderd mense, honderd menings.
Wat kies jy hierdie feestyd?
Familietyd of alleentyd?
Baie eet of baie oefen?
Konflik of harmonie?
Broei oor 2024 of beplan vir 2025?
Om te stry oor waardes en waardering loop meestal op konflik uit. Dalk is iemand net eenvoudig nie jou dam se ganse nie. Swem dan weg!
Koerania wens egter vir elkeen wat deel van ons Koeraniafamilie geword het ‘n inspirerende feestyd toe. Gesels diep dinge, delf soms waar dit ongemaklik is, maar heg waarde aan julle kosbare tyd saam.
Lag baie en wees soms verspot, want ek en jy kan tyd nie terugdraai nie.
Wees opreg en kyk jou mense in die oë wanneer jy vir hulle vertel hoe lief jy hulle het. Moenie dit op Facebook of sosiale media plak as jy dit nie reguit vir hulle kan vertel nie.
Ek en jy is vir ons eie geluk verantwoordelik. Geluk is mos ‘n binnewerkie.
Mag jou binnewerking blom en mag daar hope mooi, maklik en smaaklik om jou wees in die feestyd! Ons sien jou in 2025!
Mag die Vader elke stuurwiel vashou en elkeen van ons vooruit gaan met ons planne en ons drome!
Liefde

TAGS:

Koffie en klets

IETS en IEMAND sien uit na nog ‘n jaar

Die Franse filosoof, Maurice Merleau-Ponty, het gesê: Die hede is die spoor van die verlede in die toekoms. Daar steek soveel waarheid in dié stelling, veral noudat Koerania sy eerste bestaansjaar en ek persoonlik 60 jaar op moederaarde herdenk.
Ek dink daaroor of daar enige verskil is tussen die geboorte van IETS en die geboorte van IEMAND… Koerania is deur my en Koos Gagiano, grafiese ontwerper van formaat, geskep, sodat ek aan my behoefte om die unieke stories van Oraniërs te vertel, kan uiting gee. Op ‘n veel wyer vlak moet die waarheid oor ons dorp en sy mense die lig sien. Koerania is nie ‘n politieke speelbal of instellingvas nie. Dit is ‘n onafhanklike medium waarin tyd soms stilstaan, maar die toekoms voortdurend aandag geniet.
Orania groei en Koerania wil saam groei – ter wille van die gemeenskap. Koerania is afhanklik van die gemeenskap se ondersteuning, hulle stories en beslis hulle insette. Hierdie IETS het dus ontstaan as gevolg van IEMAND – Orania se mense.
Sestig ryke jare kan nie in ‘n paragraaf opgesom word nie. Die lekker, die lelik, die lof en die laste is gedurig deel van ‘n mens se lewensreis. Ek verlang na baie mense wat nou al, glo ek, die ewigheid bewandel. Dalk is dit iets wat met die ouderdom saamkom? Ek is nie wys genoeg om al die vrae te beantwoord nie.
Daar is ‘n paar dinge wat ek graag anders wil doen. Ek wil meer lag! En meer tyd vir kwaliteit gesprekke maak. En die see meer sien. En meer luister na ander se wysheid en wedervaringe.
Ek wil steeds verhoudings as uiters belangrik ag en my daarop toespits om die Vader se hand in my lewe te erken, gedurig af te bid, en daarvoor dankbaar te wees.
Ek kyk met dankbaarheid terug na die laaste 12 maande waarin die gemeenskap Koerania ondersteun het. As jy nog nie ‘n intekenaar is nie, mis jy uit!
Ek kom uit die stal en era van gedrukte koerante. Iets wat nou verdwyn. My hart bloei daaroor en tog kan ek met dankbaarheid en trots na die gemeenskapskoerant van Orania kyk en weet dat ons nog so baie stories het om te deel. My ondervinding in bemarking, media, televisie, radio en nou sosiale media vorm ‘n integrale deel van digitale media.
Dankie aan Koerania se adverteerders, ons storiemakers, lesers en intekenaars. Julle laat ons uitsien na die volgende 12 maande!
Daar word gereeld daarvan gepraat dat jy nie tyd kan terugkry nie. Almal kan egter VANDAG begin en ‘n NUWE einde skep. Dalk klink dit makliker gesê as gedaan, maar die hoop beskaam nie.
Psalm 16:8 Ek stel die HERE altyddeur voor my; omdat Hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie.

TAGS: