Winterswem is vir die dapper Oraniërs – of is dit?

Meer as 35 Oraniërs tussen die ouderdomme van 7 en “meer” het die Oranjerivier se waters op 13 Julie by die ingang van Sandbaai, ‘n gewilde visvang en kuierarea, aangedurf.
Die jaarlikse Winterswem, soos dié malligheid bekendstaan, word vroegoggend in minus grade met ‘n groot vuur en, vir die ouer swemmers, soete dapperdruppels of koffie afgeskop.
Die gebibber rondom die vuur het al harder geword terwyl die leiers met motiverende woorde en uitdagings vol dapperheid die groep bemoedig en voorberei het. Toe die gewraakte kreet opklink was dit deur klappertande kliphard geskree.
Oud en jonk het van hul lae klere rondom die vuur begin afstroop. Die woord is deur die ere-presidente van Winterswem, Lukas van der Merwe, Joost Strydom en Frans de Klerk gespreek voordat die hele groep die water om 07:00 stuk-stuk betree het.
Hier en daar kon daar gille van koue, wat die byna warm liggame tref, gehoor word. Gou was die hele groep staande in die rivier. Die volgende uitdaging was om vir een sekonde kop-en-al onder die water in te sak, en daarna moet elkeen nog 60 sekondes bly staan voordat uitgeklim mag word.
Die oe’s en a’s was helder van die water se kant af gehoor. Almal het hul na handdoeke, klere of die warmte van die vuur se vlamme gehaas. Hulle het dit gedoen! Nou kon daar gespog word met sukses.
Tot volgende jaar!

TAGS:

Jukskei is ‘n sport wat groei

Die Orania Jukskeiklub se oefentye is Maandae tot Donderdae vanaf 17:00. Persone van alle ouderdomme is welkom om by hulle aan te sluit. Aangesien die nuwe seisoen in Augustus afskop is dit nou die perfekte tyd om jou skei uit te haal en te gaan kragte meet teen die bestaande lede van die klub.
Albei die skole het junior spelers wat gretig is om by die gesoute spelers te leer. Kontak vir Abe Sutherland, die voorsitter van die jukskeiklub, by 082 700 0576 vir meer besonderhede.

Links: Elsabe Vos speel al ‘n geruime tyd jukskei. Regs: Kean Basson, ‘n junior speler in aksie.
Links: Elsabe Vos speel al ‘n geruime tyd jukskei. Regs: Kean Basson, ‘n junior speler in aksie.
Daar moet ondersoek ingestel word en taktiek bespreek word wanneer die skeie hulle lê gekry het.
Daar moet ondersoek ingestel word en taktiek bespreek word wanneer die skeie hulle lê gekry het.
TAGS:

Karoo klanke en klingels ontgin talent

’n Uitgebreide musiek- en kultuursentrum het pas hul deure geopen en daar word reeds ywerig gewerk om kinders en volwassenes se musikale talente te ontwikkel.
Ciska de Wet is bekend daarvoor dat sy musieklesse aanbied en altyd ‘n helpende hand uitsteek om musikale kinders met hul optredes by te staan. Christelle de Villiers sluit nou by Ciska aan om klavier, kitaar, klawerbord, blokfluit, mondfluitjie, viool, djembe en tromafrigting te doen. Hulle is so entoesiasties oor die ontwikkeling van kinders se talent dat daar ook sang, teorie, kindermusiek, drama, redenaars en ‘n pretpakket vir voornemende studente aangebied kan word.
Ciska en Christelle is gereed om kinders selfs meer te leer van teateretiket. Hulle bied so ‘n groot verskeidenheid opsies aan omdat hulle self talentvolle vroue is. Dié twee vroue is self ouers en is bewus van die besige skoolprogramme.
“Dit bly ‘n voorreg om ‘n kind se unieke kultuurtalente te help ontdek en verder te ontwikkel,” stem hulle saam.
Karoo Klanke en Klingels kan agter die Seeff-gebou in Saffierstraat gevind word. Kontak die twee afrigters by 0827674842 of 0845865600. Stuur ‘n e-pos na karooklanke@gmail.com om al die registrasiebesonderhede te ontvang.

Christelle de Villiers en Ciska de Wet is entoesiasties om kinders se musikale vermoë te ontwikkel en bied ‘n groot verskeidenheid lesse aan.
Christelle de Villiers en Ciska de Wet is entoesiasties om kinders se musikale vermoë te ontwikkel en bied ‘n groot verskeidenheid lesse aan.
TAGS:

Hoogtepunte vir CVO by Bokkiedag 2024

Orania CVO-skool is goed verteenwoordig tydens die afgelope Bokkiedag wat op 6 Julie in Meyerton aangebied is. Mynard Heroldt is as stut gekies vir AVS se o/13 Steenbokkiespan.
Orania CVO-skool is goed verteenwoordig tydens die afgelope Bokkiedag wat op 6 Julie in Meyerton aangebied is. Mynard Heroldt is as stut gekies vir AVS se o/13 Steenbokkiespan.
Josua Kotzé (links) is as losskakel en Stefan Erasmus (regs) as flank is vir die AVS se o/14 Uitnodigingspan gekies.
Josua Kotzé (links) is as losskakel en Stefan Erasmus (regs) as flank is vir die AVS se o/14 Uitnodigingspan gekies.
Twee oud-leerlinge WJ en Wiehan Nel is vir die derde agtereenvolgende jaar vir AVS se o/23 Nasionale 7’s span gekies wat later die jaar in Spanje sal toer.
Twee oud-leerlinge WJ en Wiehan Nel is vir die derde agtereenvolgende jaar vir AVS se o/23 Nasionale 7’s span gekies wat later die jaar in Spanje sal toer.
CVO-skool se voorsitter mnr. Willie Nel is as die Spanbestuurder vir die o/23 Nasionale 7’s aangewys. Dié span sal later vanjaar in Spanje gaan toer.
CVO-skool se voorsitter mnr. Willie Nel is as die Spanbestuurder vir die o/23 Nasionale 7’s aangewys. Dié span sal later vanjaar in Spanje gaan toer.
TAGS:

Kultuurfeesgees heers by CVO-skool

Daar is meer as 40 leerders wat hierdie jaar aan die jaarlikse Kultuurfees gaan deelneem. Kultuuraktiwiteite geniet nie altyd voorrang nie, maar hier gaan ‘n paar leerders hulle merk op die verhoog kan maak. Juffrou Christelle Sutherland neem leiding by die skool en ouers soos Frances Murphy, Karen Thomlinson en Christelle de Villiers is betrokke by afrigting en voorbereiding van die deelnemers. Die leerders van CVO-skool berei tans voor om volgende week, 19 en 20 Julie, in Bloemfontein te gaan meeding. Daar word in afdelings soos drama, sang, instrumentale nommers, voordrag, monoloë en onvoorbereide lees deelgeneem.
Koerania het by ‘n oefensessie gaan inloer.

TAGS:

Kruger se “laaste rusplek” word deur FAK verewig

Die inhoud van oudpresident Paul Kruger se sterfkamer, uit Clarens in Switserland, het 120 jaar later sy tuiste gevind by ons kultuurtuiste, die Voortrekkermonument.
Die inisiatief is deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) van stapel gestuur.
Na die Villa in Clarens in die vroeë 90’s verkoop is, is ’n serwituut vir 25 jaar aan die FAK goedgekeur. Dié serwituut het in 2021 verval en die inhoud van die vertrek waarin Kruger oorlede is, is aan die FAK terugbesorg en in die Kruger-galery by die VTM opgeneem.
Die FAK het vandag (12 Julie), kort voor die herdenking van Kruger se sterfdag op 14 Julie 1904, tydens ’n spoggeleentheid by die Voortrekkermonument die nuwe Kruger-sterfkamer, ’n replika van die vertrek waarin hy oorlede is, bekendgestel.
Die oorspronklike bed waarin Kruger gesterf het staan al vir jare in die Krugerhuis in Pretoria en nou kan die replika wat spesiaal vir Villa Kruger gemaak was hiér gesien word.
Danie Langner, besturende direkteur van FAK sê dis ’n geskiedkundige oomblik om die artefakte weer op eie bodum te hê.
“Dis ’n groot voorreg vir die FAK om hier by die VTM die Kruger-Sterfkamer te kon bou,” sê hy.
“Dit maak vir die FAK sin om dit hier by die monument te doen omdat Kruger se voetspore ook in die Groot Trek getrap is.”
Paul Kruger was as jong seun deel van die Slag van Vegkop en word ook op dié veldslag se fries in die monument se heldesaal uitgebeeld. Die Vrijheidsreis uitstalling in die kelder van die monument eindig ook in Pretoria, op die voorstoep van Paul en Gezina Kruger se huis en in die Historiese Trekroetetuin staan ’n 14-jarige Kruger wat ’n leeu jag ook sy plek vol.
Villa Kruger, soos dit deur die jare bekend geword het, is die huis waarin die voormalige president
van die Zuid-Afrikaansche Republiek die laaste ses maande van sy lewe deurgebring het.
Tydens die amptelike bekendstelling van die Kruger-sterfkamer het prof. Danie Goosen, voorsitter van die FAK se direksie ’n toespraak gelewer oor “die betekenis van Paul Kruger in 2024”.
Goosen sê die nabyheid met Kruger se sterfkamer vul mens met ontsag.
“Hier waar ons staan, is ons met ontsag gevul, nie net omdat ons voor Kruger se sterfkamer staan nie, maar omdat ons vandag weer ’n reus uit ons geskiedenis se lewe kan vier. Ons is, om Anna M Louw aan te haal, ‘dankbaar vir die geskenk wat Paul Kruger se nalatenskap steeds vir ons beteken.’”
Twee broers Paul en Pieter (Tokkie) Kruger, wat sesde geslag-afstammelinge van die ontslape Kruger is, het ook die verrigtinge by gewoon.
Paul (52) het spesiaal uit die Kaap hier kom kuier en sê dit maak hom ongelooflik trots om te weet sy grootoupa word vandag nog hier by die VTM vereer.
“Dit klink so geyk, maar die waarheid is ek kan nie anders as om oor te loop van trots nie.”
“Ek en my gesin het in 2017 Switzerland toe gereis om die huis te besoek en nou kan ons, vir die eerste keer ooit, hier in Pretoria kom kuier om nader aan die storie van ons grootoupa te kom,” sê Paul.
Pieter (66) sê vandag was vir hom ’n emosionele oomblik.
“Ons het groot geword met die stories van ons oupagrootjie se oupa en vandag het dié stories weer net duideliker geword met die voorwerpe uit sy verhaal wat hier voor ons staan. Dit maak mens emosioneel en trots,” sê Kruger.
“Deesdae hoor mens al hoe meer dat jongmense nie die geskiedenis ken nie en mens raak bang dat dié verhale gaan verdwyn so ons is baie dankbaar dat die FAK die storie van ons familie hier bewaar en vertel word.”

TAGS:

Mampoerkultuurfees lok duisende na die Voortrekkermonument

Die immergewilde Mampoer Kultuurfees en Kampioenskappe is al vir dekades een van die bekendste feeste in Pretoria en vanjaar het duisende mense kom kuier toe dié fees vir die eerste keer by die Voortrekkermonument aangebied is.
Die fees is vanjaar ouder gewoonte in samewerking met die Mampoerstokersgilde van Suid-Afrika aangebied.
Oom Alwyn Swart, voorsitter van die Mampoerstokersgilde, sê hy is baie dankbaar vir die opkoms vanjaar en verál bly om te sien hoeveel mense inkoop in nie net die mampoerkultuur nie, maar ook Afrikanertradisies soos boeresport en jukskei speel.
“Die jaar was dit die eerste keer wat ons die fees by ’n nuwe venue aangebied het en ons is baie dankbaar dat dit só ’n groot sukses was,” sê Swart.
“Vanjaar het ons ’n rekordgetal inskrywings van 685 bottels mampoer en likeurs vir die kampioenskappe gekry. Ons het weer baie lekker, unieke inskrywings gekry en ek dink ons het selfs die grootse fynproewers gelukkig gehou.”
Die algehele wenner vir die tweede agtereenvolgende jaar was Marijke Kleynhans van Stilbaai.
Henk Maree, bestuurder van funksies en feeste by die VTM, sê vanjaar se fees was een van die lekkerste feeste van die jaar op die monumentterrein.

TAGS:

Die Verwoerdgedenkmuseum

Die Verwoerdgedenkmuseum in Pêrellaan vertel die geskiedenis op ʼn baie lewensgetroue manier aan die nageslagte van die Afrikaner. Verskeie bekende foto’s van dr Verwoerd tydens sy presidentskap, heelwat geskenke wat hy van allerlei swart stamme ontvang het en die klere wat hy aangehad het toe hy die dag vermoor is. Binne en buite die huis is ‘n hele paar pragtige beelde wat deur bekende beeldhouers geskep is.
Die Verwoerdgedenkmuseum se geskiedenis:
Die Orania Museum is in 1994 gestig. Annatjie Boshoff, wie ‘n lewenslange vriendin en vir agt jaar sekretaresse van mev Betsie Verwoerd was, het die moontlikheid van ‘n Verwoerdkamer aangeroer. Dié kamer sou deel van die bestaande Orania museum vorm.
Dié droom is in 1997 bewaarheid toe mev Verwoerd, haar kinders, verskeie klein- en agterkleinkinders, vriende en aanhangers die opening van die Verwoerdkamer bygewoon het. Die kamer het ‘n verskeidenheid van die familie se versamelde items bevat. ‘n Groot aantal lede van die publiek het ook versamelstukke geskenk. Verskeie persone het geld geskenk sodat die museum ontwikkel en onderhou kon word.
Na Betsie Verwoerd se dood op 29 Februarie 2000 het haar kinders besluit dat haar aftreehuisie as ‘n museum aangewend moet word. Mev Verwoerd se kamer moes onaangeraak gelaat word, soos toe sy daar gewoon het. Die woonstel direk langs die kamer, waar die verpleegster/huishoudster gewoon het, moes as ‘n deel van die museum aangewend word. Die Verwoerdgedenkmuseum is in September 2000 amptelik geopen.

TAGS:

Winterskos wat die harte warmer laat klop

Wat is trooskos?

Wel, trooskos is vir my siel soos soene op ‘n seer wond! As ek koud kry of na geliefdes verlang…dan gryp ek my ou Aga pot en kook melkkos. Die reuk van kaneel streel my gemoed en bring soveel wonderlike herinngeringe mee, van tye rondom my moeder se tafel. Wat is jou trooskos en hoekom?

2 liter melk
140 g (1 k) koekmeel
5ml sout
15 g (20 ml) Botter
Kaneelsuiker

Smeer die boom van jou beste melktert kastrol met botter om aanbrand te voorkom.

Sif die droë bestanddele saam en vryf die botter in die koekmeel totdat jy GEEN korreltjies botter voel. Dit moet soos broodkrummels lyk.

Voeg nou die meel mengsel by die kokende melk. Klop met houtlepel die mengsel en sit die deksel op en laat prut vir 8-10 minute totdat die stysel verdik het. Die mengsel sal klonterig voorkom…dit moet so wees.

Sit warm voor met kaneel suiker.

Lewer 4-6 porsies

PS: Om dit soos vla te laat lyk en proe…voeg 1 e vla by die droeë bestanddele tydens die sif proses om goed te meng.

TAGS:

Neem ‘n intellektuele inspuiting

Woorde en Wysies skop die KultuurKuier af
Stef Kruger en Dana Snyman besoek Orania tydens die KultuurKuier op 1 en 2 Augustus vanjaar.
Dié twee gewilde kunstenaars vat jou op ‘n woord- en musikale reis aangesien Stef al 45 jaar liedjies skep en sing. Liedjies soos Pennies op die spoor, Grassade in die wind, Tussen jou en my en Kronkelpad beloftes om maar ‘n paar te noem. ‘n Magdom kunstenaars het sy liedjies opgeneem, maar sy persoonlike vertolkings is uitmuntend. “Wanneer lirieke uit jou eie pen kom, is daar altyd soveel meer waarde daaraan wanneer jy dit self vertolk,” vertel Stef.
Skrywer Dana Snyman se nuutste boek, Seun, sal dan die rakke tref en die inhoud handel oor sy eie lewe. Dana het ‘n unieke manier van stories vaslê en dit kry pragtig lewe wanneer hy dit self vertel.
Stef en Dana sien daarna uit om die Oraniagehore te vermaak en hulle eiesoortige kuns te kom deel.
Die KultuurKuier se volledige program sal eersdaags op Koerania se sosiale media platforms gedeel word. Dit beloof om boekwurms, liefhebbers van kuns, musiek, kultuur en kuier se aptyt mateloos te bevredig.
Kaartjies kos slegs R120-00 en is by die Orania Beweging beskikbaar. Kontak die Okkasie Hasie by 083 726 1180 vir meer besonderhede.

‘n Aktuele Sakeontbyt met ‘n tema wat almal raak
Ouers, onderwysers, grootouers en enige persoon wat met kinders werk sal daarby baat om ingelig te wees oor die Bela-beleid, ‘n affêre! Die opvoeding en opleiding van die Afrikaner se kinders hang in die weegskaal met dié beleid se eise.
Dr Jaco Deacon, FEDSAS se Uitvoerende Hoof, sal saam met Willie Spies, bekende prokureur van Hurter & Spies in Pretoria dié beleid se huidige stand deurtrap. James Kemp, bekende omroeper van PretoriaFM sal die onderhoud voer sodat elke hoek en draai van dié belangrike kwessie aangespreek kan word.
Die aktuele sakegesprek sal op Vrydag 2 Augustus om 07:30 by die Maranata kerk aangebied word. Bespreek jou kaartjie by die Orania Beweging se inligtingskantoor. Kontak Dia van Staden by 083 726 1180 indien daar enige navrae is.

Boeke en Bredies
‘n Verskeidenheid skrywers sal Orania tydens die KultuurKuier besoek. Dana Snyman, Willie Spies, Riaan Grobler en Stef Kruger sal deel vorm van die groep wat by Die Kantien gaan kuier.
Daar sal ‘n paneelbespreking gehou word sodat almal die skrywers en hul skryfproses ‘n bietjie beter kan leer ken. James Kemp en Dia van Staden gaan met die besoekers gesels, maar daar sal ook geleentheid wees vir vrae vanuit die gehoor. Die skrywers gaan by die tafels rondom ‘n bredie en ‘n stomende koppie boeretroos plaasneem om met die inwoners te kuier.
Kaartjies beloop R80p.p. en is by die Orania Beweging beskikbaar.

Willie slaan ‘n eie rigting in
Willie Spies, ‘n bekende in regskringe, se boek is ‘n bundel van sy rubrieke wat oor ‘n lang tydperk in Beeld verskyn het. Hy besoek Orania tydens die KultuurKuier en bring die feite saam.
Dié boekbespreking sal op Vrydag 2 Augustus om 17:30 by die Oewer Restaurant aangebied word. Die bespreking is gratis, maar plekbesprekings is noodsaaklik. Kontak die Orania Beweging by 053 207 0062 vir jou bespreking.
Eierigting is‘n regsterm wat beteken dat jy die reg in jou eie hande neem.
In ‘n grondwetlike bestel is die uitgangspunt dat die burgery kollektief hul reg om hulself te beskerm oordra aan die staat. Wanneer die staat faal en nie meer sy burgers beskerm nie, verander die situasie. Dan raak eierigting nodig.
Willie Spies skryf sedert 2016, die jaar van Fees Must Fall in Suid-Afrika en die verkiesing van Donald Trump in die VSA, rubrieke vir Beeld en Netwerk 24.
Dit ondersoek ’n nuwe vryheidsideaal, 30 jaar na die verkiesing van 27 April 1994 en beskryf hoe eierigting regmatig deur instellings van die burgerlike samelewing plaasvind wat leemtes vul wat die staat ooplaat.
Bron: Naledi

Orania se eie mense lewer ‘n skouspel
Daar word met opwinding uitgesien na talentvolle Oraniërs wat die verhoog sal vol staan met hul sang, dans en dramavernuf. Die Orania Skouspel is vir die eerste keer in 2023 deur die Okkasie Hasie aangebied.
Dr Phillip Nothnagel is die beskermheer van die Orania Skouspel wat op Saterdag 3 Augustus om 18:30 in die Gemeenskapsaal aangebied word. Hy sê: “Vir 30 jaar was ons skaam en skugter. Vir 30 jaar was ons jammer om te leef. Drie geslagte van ons kinders dink dit is yskoud om engels te praat of om ons taal met engelse woordjies te besoedel. Dit gebeur in die kunste, die sportwêreld en selfs op akademiese gebied. Wees stil, het ons gedink. Lê laag en en kyk niemand in die oë nie, dan sal hulle ons uitlos. Maar nee, hulle vat ons laag!
Ons het hulle respek verloor. Nou is dit klaar! Ons gaan sing dat die heuwels weergalm. Ons gaan vermaak dat dit dreun. Ons gaan mense laat opspring van vreugde en hulle trots maak op hulle pragtige kultuur!
Van Alaska tot in Nieu Zeeland gaan ons mense dwing om notisie daarvan te neem dat mooi dinge met die Afrikaner gebeur. Dit gebeur alles in Orania!”
Op die program is name soos Ané Kruger, Ciska en Sumari de Wet, Christelle de Villiers en Marcel Jacobs. Instumentale bydraes gaan die gehoor verras en nuwe stemme sal gehoor word. Dia van Staden droom daarvan dat samestellings van Orania se eie talent by die Afriforum Teater in Pretoria gaan optree.
Bespreek jou kaartjie teen R100-00p.p. by die Orania Beweging.

TAGS: