Vakansiepret in Orania
Musiek het terapeutiese waarde

’n Samewerkingsooreenkoms tussen navorsers en die musiekgroep, Marconi Union, het tot die skep van die wêreld se mees “ontspannende lied” gelei. Die oorspronklike lede van die orkes, Jamie Crossley en Richard Talbot het mekaar in 2000 ontmoet waar hulle in ‘n platewinkel in Manchester gewerk het. Duncan Meadows, klawerbordspeler, het in 2010 by hulle aangesluit.
Die orkes en ‘n navorser het met ‘n klankterapeut van die Britse Akademie van Klankterapie meegewerk om dié lied, wat klaarblyklik wetenskaplik bewys kan word, tot die afname van spanning en angs lei, gekomponeer.
Die lied, Weightless, begin met ‘n tempo van 60 slae per minuut, wat die gemiddelde hartklop van ‘n volwassene se rustende hart is. Die ritme van die musiek gaan stadig oor na 50 slae per minuut, wat so beplan is sodat die luisteraar se hartklop gelei word om stadiger en rustiger te word.
Mindlab International, spesialiste in neurowetenskap en verbruikersgedrag het ‘n groep van 40 deelnemers gevra om die raaisel op te los. Hul fisiologiese reaksies is gemonitor terwyl daar na 10 verskillende liedjies geluister is. Die lied Weightless het al die ander liedjies se uitslae geklop. Spanning het verlaag en angsvlakke het met byna 65% verlaag. Die kalmerende effek het ander fisiologiese merkers ook aangespreek.
Luisteraars het ‘n stadiger hartklop, laer bloeddruk en ‘n afname in asemhalingstempo’s beleef.
Studies toon dat dié musiek sekere terapievorms kan vervang of ewe effektief kan wees. Volgens kenners kan individuele musiekkeuses beslis spanningsvlakke verlaag.
Kathleen Howland, ‘n professor in musiek by Berklee College of Music, het vir Psychiatrist.com gesê dat die bevinding ‘n interessante teorie is, maar moontlik nie akkuraat nie. Mense verwys gereeld na musiek as ‘n universele taal, maar tog word wyd bespiegel oor die sielkundige waarde van dié spesifieke keuse.
Howard verduidelik dat musikale verwysings ‘n fyn ingesteldheid toon en dat persoonlike voorkeure, kultuur en omgewing bepalende faktore is wanneer dit by musiekvoorkeure kom. “Jy kan nie net een stuk musiek gebruik en dink dat dit vir almal sal werk nie,” sê sy.
Die musiekstuk is gekomponeer sodat dit die luisteraar kan meevoer en die breingolwe met die frekwensies van die musiek “sinkroniseer”. ‘n Tapiserie van lae frekwensies, stadige tempo, sagte en kalmerende klanke vorm die lied se basis. Klaviere, kitare en klokkies skep die melodie. Navorsers beweer dat die gebruik van hierdie konsepte dopamine in die brein laat vloei en ‘n positiewe gevoel ontketen. Die natuurklanke soos water wat vloei en voëlgeluide lei daartoe dat die luisteraar identifiseer met lewende goed en een voel met die natuur.
Karlien en Johan Erasmus van Erasmustherapy in Pretoria sê: “Musiek word na verwys as die taal van emosie. Met musiek in ons lewens kan ons verskillende nuanses inkleur: Van die skep van ‘n nodige uitlaatklep, die oproep en koestering van spesiale herinneringe tot om slaap te verbeter, spanning te verlig en jou brein te stimuleer.
Navorsing het bewys dat musiekbeoefening, asook die luister na musiek, angsvlakke kan verlaag, slaap- en pynervaring kan verbeter, asook algemene welstand en ‘n gevoel van geluk bevorder kan word. Goed-voel hormone word afgeskei en emosionele kwaliteit word by jou lewe gevoeg.”
Hulle noem dat musiek dans inspireer, wat ‘n positiewe uitlaatklep en stimulasie vir die brein is. ‘n Goedvoel-spasie. “Dit is ‘n aktiwiteit wat jy gerus in die nuwe jaar kan probeer!” moedig hulle aan.
Lees gerus by www.psychologytoday.com vir artikels oor aanverwante temas en volg Erasmustherapy by erasmustherapy.com om te sien wat hulle spesialiteitsvelde behels.
Kenners deel die feit dat dié musiek, anders as wanneer medikasie toegedien word, geen negatiewe effek of komplikasies vir die liggaam kan inhou nie.
Luister gerus self!
Fondse vir vloedskade op die maat van musiek

Op Saterdag 6 Januarie het die Weltevreden Dansakademie ‘n dans as vloedskade fondsinsameling in die Orania Gemeenskapsaal aangebied.
Nie alle Oraniërs is al terug in die tuig nie, maar dié wat wel so vroeg in die jaar hulle ritme kon toon was daar! Daar is lyndanse, walse, langarm sokkie en ruk-en-rol danse uitgevoer. Die stortreën wat aan die einde van Desember plek-plek verwoesting gesaai het, het hierdie geleentheid genoodsaak.
Die dans was ‘n heerlike losmakertjie, maar die fondsinsameling eindig nie hier nie. Hier is die bankbesonderhede vir enige persoon wat steeds hul bydrae wil maak vir die meer spoedige herstel van infrastruktuur by huise, besighede, tuine en ander geboue.
Alle bydrae word opreg waardeer!
Orania Helpmekaar
Eerste Nasionale Bank (FNB)
Rekeningnommer: 62833708425
Verwysing: Vloed
Takkode: 230 203
Orania Helpmekaar
OSK: GO 015
Verwysing: Vloed

Van pastorieseun na hoof van ’n opleidingsentrum

Dié Vrystaatse seuntjie het in Welkom sy laerskoolloopbaan voltooi en het saam met sy ma en dominee-pa na Potchefstroom verhuis waar hy by Gimmies hoërskool aangesluit het. Hy eindig saam met ander studentevriende in Patria manskoshuis by NWU op en skop sy studies in B.com Ondernemingsbestuur af. Hy moes woeker om saam met sy studenteliefde, wie nou sy vrou is, sy studies te voltooi, aangesien hulle saam die beroepswêreld wou betree.
Paul en Janie is in 2012 getroud en het hul in Pretoria gevestig. Janie het haar onderwysloopbaan begin en Paul het by Aros begin werk waar hy tussendeur sy honeursgraad in Personeelbestuur en Strategiese Ondernemingsbestuur voltooi het. Hy was vanaf 2016 as die Operasionele Bestuurder by Akademia aangestel, en het tydens sy tydperk daar in 2019 sy MBA voltooi.
Die verhuising na Orania aan die begin van 2023 hanteer Paul en sy gesin as ‘n roeping. “Mens moet besluit wat jou roeping in die lewe is. Ons wil graag werk om ‘n verskil te maak en hier kan dit wat ons doen, vir ons nageslag iets beteken,” vertel Paul. Dié egpaar het self aan ‘n nageslag gewerk en hul dogtertjie, Annie (7), en seuntjie Jan (4), het natuurlik saam verhuis. Paul is baie lief vir lees, visvang en houtwerk, maar vrye tyd gebruik hy deesdae om met sy kinders te speel.
Hy gesels met ‘n aansteeklike energie oor die potensiaal van jongmense wat ‘n groot impak op hul gemeenskap kan maak waar daar gehalte onderwys verskaf word en die studente positief beinvloed word om hulself te wees. “BKO moet kapitaliseer op ons unieke eienskappe omdat opvoeding in ‘n veilige omgewing, by ‘n kampus sonder mure, wat deur jou eie mense gebou is, geskied. Wie wil nie so ‘n studentelewe geniet nie?”
Die doelwit is vryheid deur opleiding en arbeid.
Tydens die gesprek word dit gou duidelik dat Paul ‘n man met ‘n positiewe uitkyk op die lewe is. “Ek sien eerder geleenthede as uitdagings en dit hou my opgewonde vir wat ons bou.” Aangesien hy aan hegte familiebande glo besef hy dat sy vrou baie moes opoffer om die groot trek na Orania saam met hom te onderneem. Paul beskryf homself as ‘n aanpasbare wese aangesien sy kinderlewe in ‘n pastorie hom baie geleer het van ‘n verskeidenheid omstandighede waarbinne mens perspektief moet behou. “Die Here bly in beheer, ongeag wat ons doen en wat ons besluit,” voeg hy met ‘n glimlag by.
Hy bieg dat aanlyn aankope die aanpassing van die stad af makliker maak. “Ons was gelukkig om in die Moot te bly, wat ook maar platteland was.” Hy sien daarna uit om Oraniërs te ontmoet wat soos hulle glo, want volgens hom is die gemene deler die geloofsgrondslag. Hy en Janie wil besluite in die beste belang van hulle kinders neem sodat hulle nie eendag die massa se standaarde as die norm sal aanvaar nie.
Dié jongman hou van detail wat ‘n volledig afgeronde prentjie moet vorm en daarmee ‘n duidelike boodskap moet oordra. As deelnemende spanleier geniet hy dit om ‘n dinamiese groep te lei sodat elkeen tot sy reg kan kom.
“Die stof in Orania pla my.
Elke dag!”
Stilsit is egter nie vir hom ‘n opsie nie. Hy verduidelik dat hy iets van alles kan doen en hy verkies om met ‘n projek besig te wees, eerder as om te sit en wag vir tyd om hom in te haal. Die feit dat hy doelwitgedrewe is voorkom verveling en alhoewel hy glo dat spanlede se modus operandi kan verskil, is ‘n gemeenskaplike doel beslis belangrik. Deur met mense te werk laai sy energievlakke. Hy erken dat administrasie, alhoewel dit belangrik is, sy energie tap.
Vir Paul is daar drie fokusareas in Orania wat aandag moet geniet. Die dorp-tot-stad-tot-streek droom is vir hom belangrik voordat daar na die land gekyk kan word. “BKO en sy studente vorm ‘n brug tussen stad en streek,” voer hy aan. Hy noem dat Orania se behoefte oor vyf jaar anders sal lyk, maar dat ‘n studentegemeenskap geleenthede skep. “Ons het ‘n hoopvolle toekoms met ons oë op Christus wat vir ons toekomsperspektief gee. Ons is besig met Sy werk. Dit is nie in ons hande nie.”
Hy glo daarin om in spanlede se sterk punte in te speel deur krities te wees, maar ‘n veilige omgewing te skep waarbinne ‘n opinie gelewer kan word. “Ons moet kan verskil om uiteindelik die regte besluit te kan maak. Die beste is nie noodwendig reg nie. Solank daar vertroue is, skep dit ‘n veilige omgewing om in te verskil.” Paul vertel dat hy maklik die mens binne die konteks kan raaksien en dat dit sy empatiese sy voed.
Paul raak opgewonde wanneer hy voort borduur oor die belang wat Orania daarby het om ‘n studentegemeenskap te akkommodeer. “’n Gemeenskap bestaan nie net uit een ouderdomsgroep nie. Orania sluit ook die volle spektrum van baba tot bejaarde in. ‘n Gesonde en veilige omgewing beinvloed ‘n student se lewe. Aangesien dit ‘n tydperk is waarin ‘n student nog mens word, bevestig dit juis die belangrike rol van ‘n gemeenskap.”
“Ek is soos ‘n dirigent voor ‘n orkes. Ek speel nie noodwendig ‘n instrument nie, maar ek weet hoe elke instrument sy rol moet speel om ‘n simfonie te laat opklink. Saam vorm dit ‘n volle prentjie.”
Hy lê gedurig klem op gehalte opleiding wat ‘n student se betrokkenheid en terugploeg in ‘n gemeenskap tot gevolg kan hê. Paul se vyf-jaar-plan sluit ten minste 1000 studente uit ‘n breë demografiese gebied in. “Ons het die wilskrag, energie en plek om dit te bereik. BKO se studierigtings moet ook voldoen aan die behoefte van die dorp sodat ons na ‘n stad kan groei. Gehalte opleiding, met ‘n nog sterker fokus op landbou en heelwat nuwe kwalifikasies vorm deel van my toekomsdrome.”
Janie, Paul se vrou, is ‘n onderwyseres. Deur hul onderskeie opvoedkundige rolle weet hy dat die nood vir kwaliteit onderwysers groot is en verstaan hulle dat die impak van ‘n opvoeder enorm is. Hy noem dat die voorbeeld wat gestel word so belangrik is soos die kennis wat oorgedra word.
Paul se menswees is diep geanker in hoop. “Ons skep hoop deur opleiding en die arbeid wat ons daaraan koppel. Om ‘n toekoms te bou moet daar hoop wees. BKO bring baie nuwe voete na Orania. Deur ‘n gebalanseerde lewe aan ons studente voor te hou skep ons gebalanseerde en verantwoordelike volwassenes.”

Jeugkorpslede word met trots voorberei

Sedert 2020 het Theuns Wessels, die hoof van Weerbaarheid in Orania en Jeugkorps instrukteur, jongmense tussen die ouderdomme van 17 en 23 begin voorberei om patriotisme vir Orania te ontwikkel.
Die Jeugkorpsprogram sluit ses naweekkampe gedurende die jaar in wat aktiwiteite soos marsjeer, noodhulp, veldkuns, skietkuns en ons ryk geskiedenis insluit. Dit is vir die instrukteurs belangrik om die Orania-idee by die jeug tuis te bring.
Theuns vertel met trots wat die sukses van die program duidelik is aangesien lede gereeld na hul ervaringe, maklik en uitdagend, verwys wanneer hul daaroor uitgevra word. “Ons jongmense het begronding nodig en aangesien hulle die toekoms van Orania is, is hierdie die ideale voertuig om daardie kwaliteite en kennis oor te dra,” sê Theuns.
In haar toespraak het Magdaleen Kleynhans, ‘n instrukteur, gesê: “In hierdie uitdagende opleidingsproses leer die Jeukorpsrekrute nie net om individueel uit te blink nie, maar om as ‘n onverslaanbare eenheid op te tree. Of dit nou navigasie, taktiese vaardighede of kommunikasie was, julle het nie net bestaande vaardighede verbeter nie, maar ook nuwes ontwikkel.”
Ander persone wat as instrukteurs optree is Phillip Myburgh, Cobus Kirsten, Guilaume van Rensburg en Stefan Human. Die 2023 lede van die korps sal gedurende 2024, met die hulp van die Taakspan, as mentors opgelei word sodat hulle stelselmatig ‘n meer formele rol binne die program kan vervul.
Op 31 Januarie om 17:30 sal daar ‘n inligtingsessie en inskrywingsgeleentheid by die Gemeenskapsveiligheidsentrum vir persone wat hierdie waardevolle program oorweeg, aangebied word. Kontak Theuns Wessels by 071 3522 754 vir meer besonderhede.
Presteerders in 2023
Eldien Kirsten is aan die einde van 2023 as ‘n lid van die Jeugkorps as top presteerder aangewys. Eldien is ‘n werkende jong dame wat balletklasse gee, ‘n afrondingskool begin het en ‘n werkende lid van ons gemeenskap is. “Ek is deur my broer, Cobus Kirsten, oortuig om deel te word van die Jeugkorps, aangesien hy die program voltooi het. Ek het dit as ‘n uitdaging gesien en ‘n geleentheid om iets nuut te leer,” vertel Eldien. Die program het haar geleer dat sy tot meer in staat is as wat sy ooit vermoed het.
Die grootste les, volgens haar, was om al die nodige warm klere in ‘n sak te pas sodat sy in die middel van die winter in die veld kon slaap en oorleef. “Ek was hoogs onsuksesvol,” spot sy. Sy vertel dat sy beslis iemand sou aanbeveel om die program te volg. “As jongmense kan verstaan dat jy BUITE jou gemaksone moet leef om persoonlike groei te kan beleef, sal hulle hiervan deel word!“
Eldien voel dat die jeug in dié moderne tye moet leer dat hul slegs op God kan vertrou. “Ek het hoop vir ‘n goeie toekoms, maar meer van die jeug moet erns maak met die toestand waarin ons land is en hulself met die nodige vaardighede bemagtig om ‘n verskil te kan maak,” sê sy op ‘n ernstige noot.
Haar slagspreuk: “The best time to raise dragon slayers is in a time of dragons.”
Eldien sien daarna uit om uitdagings in die toekoms met meer selfvertroue aan te pak.
Hermanus Havenga is trots om as ‘n Jeugkorpslid van 2023 erkenning te kry vir sy volgehoue lojaliteit en uithouvermoë. Hy werk tussen die pekanboorde by Vluytjeskraal 272. Alhoewel Cobus Kirsten hom ook oortuig het om by die program aan te sluit wou hy nuwe vaardighede buite sy gemaksone aanleer.
Sy grootste les was dat jy jouself moet toelaat om foute te maak. “Om ‘n besluit te in ‘n gegewe situasie te neem en nie te lank te wag voor jy die besluit maak nie, is belangrik. Ek maak liewer die verkeerde besluit en leer daaruit as wat ek geen besluit neem nie,” sê Hermanus.
Hy vertel dat dit ‘n uitdaging was om ‘n seksie te oortuig dat almal hul insette kan lewer en dat kommunikasie belangrik is. “Leierskap verg baie van ‘n individu,” noem hy.
Hermanus sal graag ander lede van die jeug aanmoedig om deel te word van die Jeugkorps, want jy leer nuwe vaardighede aan en die hele proses toets jou fisiese- en emosionele vermoë. “Die Jeugkorpskampe druk jou fisies en emosioneel tot op ‘n plek waar mens nie gewoonlik uitkom nie, want ‘n mens gee op voor dit erg raak,” vertel hy.
Hy wil die jeug motiveer om soms die nar in ‘n situasie te wees, met die wete dat jy dalk ‘n fout gaan maak. “Hoe gaan jy weet as jy nie probeer nie?”
Hermanus is ‘n man wat graag eendag wil trou maar hy hou vol dat hy vanjaar meer aktiwiteite buite sy gemaksone gaan aanpak en dat sy besluitneming vinniger sal geskied.

Openbare Kuns

Die Geloftemuur by die vulstasie is ʼn prag kunswerk wat Oraniërs herinner aan 16 Desember 1838, die dag waarop ʼn Goddelike wonderwerk plaasgevind het. Andries Pretorius se laer is gespaar teen ʼn oormag Zulu’s. Hierdie muur beeld ossewaens van die Groot Trek aan die een kant en Sarel Cilliers wat die gelofte aflees aan die ander kant uit. Plaaslike kunstenaar, Petra Langner, was die skilder.
Foto: Dr Louis Bothma

Met nederigheid sprei hy sy vlerke

Johan de Lange is selfs in sy vriendekring bekend as ‘n boerseun en het verskeie persone verras toe hy onlangs as Instrukteur van die Springbok Vliegakademie in Orania aangekondig is. Johan is ‘n Graad III vlieginstrukteur met ongeveer 380 vliegure onder sy vlerk. Johan het sy vliegloopbaan in 2018 by Westline Aviation in Bloemfontein begin. Hier het hy ongeveer 70 ure se ondervinding as instrukteur opgedoen.
Johan en Marli is byna 2 jaar gelede getroud. Hy beskryf sy vroutjie as sy steunpilaar wat hom van die begin af in sy vliegloopbaan ondersteun. Sy ouers, Johan en Anneke, is albei grootliks by die boerdery betrokke en hy verwys met baie trots na hulle as ‘n hegte gesin wat dit geniet om tyd saam te spandeer. Sy sussie, Anel, beplan om vroeg vanjaar in die huwelik te tree en die egpaar gaan ‘n paar jaar in Amerika woon.
Pa Johan het lank aan sy seun gekarring om sy vlieglisensie te kry, om ten minste ‘n agterdeur oop te hou as die landbougraad nie vir hom werk nie. Die vliegstorie begin toe sy aantrekkingskrag kry nadat Johan ‘n opedag by ‘n Bloemfonteinse vliegskool beleef en ‘n inleidingsvlug onderneem het.
“Ek was veral beïndruk met die struktuur en dissipline waarop alles in die bedryf gedoen word. Daar is geen kortpaaie, ongeag wie jy ken, kan niemand jou help om ‘n trappie van die leer oor te slaan nie, en alles verg harde werk en baie dissipline,” vertel ‘n nederige Johan. Hy vertel dat sy glimlag met elke opstyg vanaf die aanloopbaan verbreed en sy vinnige aanvoeling vir die instrumente en kontroles redelik natuurlik gekom het.
Hy verduidelik dat vlieg nie ‘n moeilike taak is nie, maar dat die opstyg en landing meer fokus verg. “Waar dit moeilik raak is as daar in die lug ‘n fout opduik en jy kan nie van die pad aftrek om die probleem te ondersoek nie…”
Die voorvlug kontrolelys moet baie aandagtig deurgegaan word voor elke vlug om te verseker dat daar geen voorkombare probleme tydens die vlug is nie. Dokumentasie van ‘n vliegtuig, die dokumentasie en beplanning vir die vlug, jou voorvlugkontrolelys, die nagaan van brandstof en oliehoeveelhede is voorbeelde van wat nagegaan word voor ‘n vlug. Indien iets tydens ‘n vlug gebeur moet jy baie vinnig die situasie opsom en ‘n veilige landingstrook kies wat die minimum skade aan die passasiers, vliegtuig of jouself gaan doen.
Johan het ‘n baie eenvoudige en gestruktureerde sisteem saamgestel waarmee hy en die voornemende studente van ‘n kant af gaan begin werk. Die inhoud behels grondskool, ‘n inligtingsessie spesifiek vir die oefening van elke dag en ‘n volledige lys van presies wat van die student verwag word voor, tydens en na ‘n vlug. Die doel van die sisteem is om die student gerus te stel en presies te wys wat van hom verwag word.
Dié jongman is baie dankbaar vir die geleentheid wat Springbok Vlieg- en Grondakademie en die span hom bied. “Ek is baie lief vir die boerdery, maar ek sal altyd ‘n passie hê vir vlieg. Oom Flippie, Petro en Ben het my droom baie vinnig ‘n realiteit gemaak en ek kon nie vir ‘n beter span gevra het nie. Ek sien daarna uit om onder hul leiding meer te leer van die bestuur en operasionele kant van die vliegskool.,” vertel Johan opgewonde.
Johan kon sy privaatlisensie (PPL) binne 3 maande voltooi en dit was net die landings wat effens meer tyd geneem het om te bemeester. Alhoewel hy gespanne was oor die radiowerk, het hy dit vinnig onder die knie gekry. Die kommersiële lisensie (CPL) was wel ‘n ander saak. Die vliegoefeninge met ‘n instrumentgradering was op daardie stadium vir Johan uitdagend en die 10 vakke wat hy moes skryf het baie van sy tyd opgeneem.
Daar is ‘n paar algemene foute, het hy al ondervind, wat soms deur studente gemaak word. Aangesien daar spesifieke oplossings vir spesifieke situasies is, vergeet studente soms om die korrekte stappe te neem om ‘n fout te korrigeer. Hy voeg by dat studente radiotransmissies of sekere vlugkontroles nalaat aangesien dit ‘n tydjie vat om gewoond te raak aan die kajuitomgewing en prosedures.
Johan skets ‘n ideale kandidaat wat as ‘n vlieënier wil kwalifiseer as iemand wat leiding kan neem, wat kan kommunikeer, verantwoordelik is, ‘n sin vir rigting het, kalm kan bly in ‘n oomblik van nood en wat vinnig en met selfvertroue in alle omstandighede kan optree. “Dissipline en self verantwoordelikheid om jou en die passasiers se veiligheid bo alles te stel, is van kardinale belang,” beklemtoon Johan.
Sy droom vir Springbok Vliegakademie is om ‘n suksesvolle vliegskool te wees waar studente hul lisensie sonder onnodige struikelblokke kan voltooi. “My eerste prioriteit is nou om ons eerste studente na die beste van my vermöe op te lei en dalk kan ons eendag vragte vlieg of betrokke raak by mediese vlugte na groter stede,” droom hy verder.
Kontak Petro van Wyk, algemene bestuurder van die Springbok Vliegakademie by 083 307 6112 vir meer besonderhede.

Die Tankwa Camino laat blywende indruk

Die Tankwa Camino geskied vanaf Calvinia tot Op die Berg. Vanaf 31 Augustus tot 10 September 2023 moes die 32 dapper stappers die 235km binne 10 dae aflê. “Hierdie keer het ek nie vir ‘n fondsinsameling gestap nie, maar sommer vir my persoonlike ongerief,” skerts Pieter.
Dié groep het uit 24 vroue en 8 mans tussen die ouderdomme van 40 en 70 bestaan. “Jongmense is nie volop met dié staptogte nie, maar dit is moontlik werksomstandighede wat hul deelname beinvloed,” redeneer hy. Pieter vertel dat daar ‘n paar ystervroue is wat die tog aangedurf het en dat hul ‘n bewys is van vroue se uithouvermoë. Lené, Pieter se vrou, voeg by: “Julle moet onthou dat die kaalvoetvroue oor die berge is met lang rokke en kappies.” Ter voorbereiding het hy vir weke lank elke oggens 5km gaan stap en naweke nog verder. Hy het so twee maande vooraf met sy nuwe skoene begin oefen sodat hul uitgetrap kon wees vir die werklike ervaring. Hy erken dat hy nie die Karoo té gereeld met dié afstande in die somer sou aanbeveel nie, maar dat fiksheid tot jou voordeel is.
Die Red-‘n-plaas staptog wat Pieter in April 2023 aangepak het, het ‘n duidelike doelwit gehad, terwyl die Tankwa se 20 tot 27km per dag enige persoon tot ander insigte dwing. “Jy trek voor sonop weg sodat jy die 4 tot 6 ure se stap vir die dag teen ongeveer 13:00 kan afhandel,” verduidelik hy.
Wanneer elke individu op hul eie tyd by die oornagplek arriveer word daar tent opgeslaan, gewas, voete gedokter, geëet en gerus. Aangesien die nag dan nog effe ver is en daar geen almanak of selfoonsein is nie sorg dit vir genoeg gesels- of kuiertyd. “Jy beweeg saam met die son. Daar word geëet terwyl dit nog lig is. As dit donker word gaan klim jy in jou tent en slaap,” vertel Pieter. Hy voeg by dat hy nog nooit sukses met ‘n “afblaasmatras” gehad het nie en daarom dra hy ‘n oprolmatras, slaapsak, kombers en kussing vir slaaptyd saam. Ander belangrike inpakgoed is onder andere medikasie vir maagsake of pyn, krampgoed, pleisters, naald en garing vir waterblase, mercurocrome en spiritus vir jou voete. “Deur jou voete elke aand na die stap met spiritus te smeer maak die vel sterk en voorkom blase. Behoorlike stapskoene, wat aanvanklik seker jou grootste uitgawe is, goeie binnesole en ‘n paar pare kwaliteit sokkies is nie onderhandelbaar nie,” voeg hy by. Volgens hom is mense soms hardkoppig en hou aan stap terwyl hulle voete ooreis word. Dit is dan wanneer pynlike waterblase ontwikkel.
“Ek wil beslis ‘n eentonige lewe van werktoe en huistoe vermy. Die “ander” wêreld wat jy betree het my getrek.”
Iets wat Pieter telkemale met soortgelyke ervarings leer is om nie ‘n boek volgens sy omslag te beoordeel nie. “Daar is geleerdes in die groep en hulle voeg baie waarde tot gesprekke toe,” sê Pieter. Hy verduidelik dat baie mense stap om weer perspektief op die lewe te kry. Terwyl sommige persone verkies om alleen te stap en stil te wees, is daar ander wat oor die lewe en sy uitdagings praat en natuurlik leen die mooi natuur hom tot baie ditjies en datjies waaroor gesels, bespiegel en gefilosofeer kan word.
Aangesien die tog op ‘n grondpad is en nie in die veld nie, dra jy gelukkig net jou verversings vir die dag saam met jou. ‘n Sonhoed en sonskerm vorm ‘n onafwendbare deel van jou staptoerusting. Elkeen kan langs die pad rus wanneer hulle so voel. Pieter gee nie vir sy stapmaats baie tyd om verveeld te raak nie, want hy het tydig en ontydig ‘n geleentheid gesoek waar hy in ‘n sloot of agter ‘n wal sou wegkruip sodat hy iemand kon skrikmaak wanneer hulle ewe onbewus en in stilte verbystap.
Pieter vertel dat hy graag weer die kleiner groep se staptog sal aanpak, aangesien daar dan tyd is om met almal te kuier. Alhoewel hy lighartig kan wees kom daar ‘n ernstige trek op sy gesig terwyl hy sy kop stadig knik om die erns van die ervaring te beklemtoon. “So iets maak ‘n blywende indruk op ‘n mens se psige en bring verandering in jou denke.”
“Wanneer jy tuiskom waardeer jy weer wat jy het. Jy waardeer weer jou kwaai vrou, ‘n stort, spoeltoilet, warm bed en lekker kos.”

My pa bly op die maan

Nadia Ettwein het Orania in 2021 besoek nadat haar pa, Cor Ettwein, ‘n beroerteaanval gehad het. Aangesien sy gedink het dat sy afskeid moet kom neem van haar pa was dit ‘n gedwonge besoek aan haar pa se nuwe tuiste.
Tydens dié besoek ontstaan ‘n fotoprojek waarmee Nadia haar pa se identiteit binne die gemeenskap van Orania ontdek. Sy gaan op ‘n persoonlike verkenningstog, want sedertdien het sy Orania al meermale besoek en is telkens verras oor wie en wat sy hier vind. “Ek het begin om die plek te sien waarheen my pa verhuis het, waar hy sy Afrikanerkuluur, geloof en selfwerksaamheid kan uitleef,” beklemtoon Nadia.
Dié fotograaf het die plek waarheen haar pa verhuis het deur die lens leer ken en haar aanvanklike persepsies is uit die weg geruim. Sy gebruik ‘n digitale kamera en ‘n 35mm analoogkamera. Sy het ‘n voorkeur vir swart en wit film en dra dan haar foto’s oor na digitale formaat toe. “Swart en wit is simplisties en minimalisties. Daar is ‘n stilte in swart en wit foto’s,” deel Nadia haar opinie.
‘n Goeie portretfoto wat ‘n storie vertel en ‘n dieper betekenis kommunikeer is haar gunsteling tipe foto, ongeag die onderwerp. “My foto’s moet kunswaarde hê,” sê sy met ‘n glimlag.
Nadia het tot dusver reeds meer as 600 foto’s geneem en sy besef dat die aanvanklike gedagte in ‘n veel groter projek ontwikkel het.
Sy hoop om uiteindelik ‘n persoonlike narratief te deel en groter begrip te skep vir die kompleksiteit van Afrikaanse tradisies en daardeur probeer sy meer verstaan oor haar eie kulturele erfenis binne die konteks van Orania.
Nadia was in 2023 as ‘n wenneer van die CAP, Contemporary African Prize, aangewys. Die prys word sedert 2012 jaarliks aan slegs vyf wenners toegeken. Fotograwe wat in aanmerking kom se werk moet hul oorsprong op die Afrikakontinent hê. Die prys sluit verskeie uitstallings en die bywoning van wêreldwye fotografiegebeure gedurende 2024 in.
Lees hier meer: www.capprize.com/landing/winners2023
Nadia wil onthou word vir haar kuns en aanhou om kwaliteit werk te skep.
Volg Nadia by www.nadiaettwein.com
www.instagram.com/nadia.inreallife/
