Marlè Nel was deel van Eminence Sport se Enforce netbalspan wat van 27 November tot 4 Desember aan die HSBC Dubai 7’s se netbaltoernooi deelgeneem het.
Marlè is uitgenooi nadat sy ‘n Curriculum Vitae van haarself aan die organiseerders moes stuur. Sy vertel dat hulle baie avonture meegemaak het.
Koerania sal in die Januarie-uitgawe meer van Marlé se avontuur in Dubai vertel.
Marlé Nel, ‘n graad 12 leerder van Orania CVO-skool in aksie tydens die HSBC Dubai 7’s se netbaltoernooi.
Shenelee de Lange is 21 jaar oud en het op 10 November teruggekeer na haar tuisdorp, nadat sy ‘n jaar en 7 maande in die VSA as au-pair deurgebring het. Sy het onderskeidelik in Pennsylvania, Texas en in Florida gewerk, maar beslis die tyd benut om baie meer van die land en sy mense te wete te kom.
Dié jonge dame het op 14 April 2023 die vlug na Amerika gehaal, omdat sy besef het dat haar studierigting, binnenshuise ontwerp, dalk nie die beste keuse was nie.
Die gesin met vyf kinders, vir wie sy gaan werk het, het haar blootstelling in hul manier van kommunikeer en sosialiseer geweldig verbreed. Aangesien die kinders onderskeidelik 13, 11, 10, 8 en 5 jaar oud is, was die temperamente uiteenlopend, uitdagend en interessant.
Shenelee het die Amerikaners as impulsief beleef. “Hul probleemoplossing word impulsief benader en hulle heg nie belang aan die gevolge van hulle besluit nie.” Sy glo dat dit juis die kwaliteit in Afrikaners is wat hulle gesog maak as au-pairs in ander lande.
Van die hoogtepunte tydens haar tydperk daar sluit die besoeke aan drie van Amerika se grootste temaparke in. Disneyland, Sea World en Universal Studios was vir haar baie opwindende besoekpunte as ‘n toeris. Sy kon die het Bioluminescerende water tot die Manta ray migrasies aanskou. “Ek die absolute beste van God se skepping ervaar,” glo sy.
Eensaamheid was daar nie voor tyd nie en sy het ook nie alleen gevoel nie, want “God het my nie vir ‘n sekonde alleen gelos nie”. Sy glo dat God se planne altyd beter as haar planne is.
Dit is vir die meisiekind lekker om weer in haar ouerhuis te wakker te word. Sy het studeer en direk daarna oorsee vertrek, en dus is sy al gewoond om nie by haar ouers te wees nie. “Ek raak nog gewoond daaraan, maar vang myself telkens dat ek ‘n verskoning soek om deur die dag by hulle ‘n draai te gaan maak.”
Of sy dit weer sal doen het ‘n maklike Antwoord: “Defnitief!” Sy beveel dié ervaring vir enige post-matriekleerder aan wat onseker is oor wat hul met die res van hul lewens wil doen. “Dit dwing ‘n mens om selfstandig te word, en jy keer met ontelbare herinneringe en geleenthede terug. Dit is terloops ‘n oorbruggingsjaar wat ook ordentlik betaal,” voeg sy laggend by.
Op Woensdag 27 November het die matrieks van Orania CVO-skool hul laaste vraestel van die eindeksamen as ‘n groep geskryf. Dié ou tradisie waar die hele groep in die gemeenskapswembad spring, is uiteraard weer met ‘n gejuig uitgevoer. Koerania wens die matrieks alle seën op hul pad vorentoe toe!
Nikke Basson, koördineerder van die Straatfees vertel dat sy verstom staan oor al die mense wat hul onbaatsugtige hulp aangebied het om alle voorbereidings vir die fees op 23 November suksesvol te laat verloop.
‘n Elektriese bussie het persone na die terrein by die Gemeenskapsaal vervoer waar die reuk van vars roosterkoek en botter as voorgereg almal ingewag het. Musikante het vooraf musiek gemaak en daar is deurentyd heerlike agtergrondklanke verskaf.
Sy vertel dat die gemeenskap ‘n oorvloed wonderlikste disse gebring het wat met mekaar gedeel kon word. “Die gemeenskap het werklik hiervan ‘n FEES gemaak. Ons span het net die agtergrond geskep!”
Daar is tot laat onder die helder Karoosterre gekuier terwyl vars oliebolle en koffie vir oulaas geniet kon word.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuur-vereniginge (FAK) kyk terug op ’n jaar van baie hoogtepunte wat ons met die jeug van ons land kon deel.
Só besin die FAK oor die impakvolle inisiatiewe wat ons vanjaar aangepak het wat daarop gemik is om kreatiwiteit te koester, erfenis te bewaar en die jeug van Suid-Afrika te bemagtig.
Die FAK bly toegewyd om geleenthede te skep wat kinders en jong volwassenes inspireer om sinvol by die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse geskiedenis betrokke te raak.
Internasionale Afrikaans-Ekspo
Vanjaar se Internasionale Afrikaans-Ekspo het die verbeelding van kinders en jong volwassenes, wat ’n passie vir Afrikaans het, wêreldwyd gevier. Met die tema “TOEKOMS” het deelnemers van graad R tot 25 jaar oud hul drome en visies verken deur kuns, fotografie en kreatiewe skryfwerk. Die Ekspo het die volgende generasie aangemoedig om vernuwend te droom en ’n liefde vir hul taal te ontwikkel.
Beskerming van ondewysregte: Die Bela wetsontwerp-petisie
Die FAK het in 2024 ferm standpunt ingeneem teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (BELA). Deur ’n amptelike petisie te loods, het die FAK ouers, onderwysers en studente verenig in ’n beweging om moedertaalonderrig en die outonomie van skole te beskerm. Hierdie poging het die reg op gehalte-onderrig in Afrikaans beklemtoon, wat die kulturele en linguistiese erfenis van toekomstige geslagte beskerm.
Slypskole kweek kreatiwiteit
Die FAK het in 2024 vier dinamiese slypskole aangebied, elkeen aangepas om kreatiwiteit en passie by die deelnemers aan te wakker:
• Boeremusiekslypskool: Vereer tradi-sionele musiek en instrumente.
• Kunsslypskool: Aanmoediging van jong kunstenaars om hulself uit te druk.
• Gedigtetoonset-slypskool: Blaas lewe in poësie deur uitvoering.
• Skoolkoerantslypskool: Bemagtig jong en opkomende joernaliste om hul stories te deel.
Hierdie slypskole het praktiese vaar-dighede en ’n platform verskaf om verskeie vorme van kuns te verken.
FAK se geskiedenisolimpiade: Onthou die verlede om die toekoms te vorm
Die FAK se Geskiedenisolimpiade, nou in sy vyfde jaar, het inskrywings ontvang van leerders van graad 4 tot 12. Die 2024-olimpiade het die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) en die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) as temas verken, wat aan deelnemers ’n kans gebied het om hul begrip van Suid-Afrika se geskiedenis te verdiep. Hierdie aanlyn inisiatief het kinders aangemoedig om krities met ons geskiedenis om te gaan, wat beide hul kennis en waardering van die verlede versterk het.
Die FAK bevestig weer sy toewyding aan die ontwikkeling van jongmense. Deur taal, kultuur en onderwys te bevorder, verseker die FAK dat elke kind die gereedskap het om groot te droom en sukses te behaal in ’n toekoms wat deur hul eie hande gevorm is.
Vir meer inligting oor die FAK se projekte en inisiatiewe, besoek
www.fak.org.za
Afrikaners is as kultuurgroep, deur die loop van ons geskiedenis, in essensie nog altyd afhanklik van die Liewe Vader.
Dit is juis hierdie bevestiging van afhanklikheid wat ons as kultuur deur uiterse swaar tye verenig. Min het hierdie waarheid beter uitgeleef as die Voortrekkers op Bloedrivier …
Om afhanklikheid van die Here te aanvaar, is om te aanvaar dat ons sonder Hom tot niet sal gaan. Ons gee oor, alles wat ons het, alles wat ons is.
Die uitdagings wat ons kultuur nou ervaar, is meer genuanseerd en kompleks, dit is ’n kombinasie van direkte en indirekte aanval met die oog op die afplatting en uiteindelike uitwissing van ons kultuur.
Net oor daar nie assegaaie op die horison is nie, beteken nie daar is nie ’n bedreiging nie.
Ons kan egter leer uit ons verlede en wat tot dusver gelei het tot ons kulturele suksesse. Die dae wat kinders in skole waarde vanuit die Voortrekkerstories kon put, is verby, en is dit dus elke Afrikaner se verantwoordelikheid om die oordrag van hierdie ryk geskiedenis na die volgende geslag te verseker.
Die tipe geloof wat dit neem om 20 000 Zoeloes in die gesig te staar en nie te vlug nie, sê baie van wie hierdie Voortrekkers was. Dit sal diep geestelike introspeksie neem om uit te klaar of ek self sou beskik oor hierdie diep geloof en vertroue, maar die Voortrekkers het; so goed het die Here hulle bewaar dat nie een Voortrekker op die dag sou sterf nie.
Die Gelofte word hier dus ’n tasbare oomblik in die Christelike Afrikanergeskiedenis en is een van die groot boustene op ons ryk geskiedenis.
Die Voortrekkers het nie vir hulleself, eie roem en eer geveg nie, maar vir ons, die nageslagte, sodat ons elke jaar opnuut ons afhanklikheid teenoor die Here kan verklaar.
Die Gelofte lees: “Hier staan ons voor die Heilige God van Hemel en aarde om ’n gelofte aan Hom te doen, dat as Hy ons sal beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons die dag en datum elke jaar as ’n dankdag soos ’n Sabbat sal deurbring, en dat ons ’n huis tot Sy eer sal oprig waar dit Hom behaag, en dat ons ook aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte. Want die eer van Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer van oorwinning aan Hom te gee.”
Dit is ons voorreg om elke jaar opnuut op die 16de Desember ons afhanklikheid teenoor die Here te bevestig. Kulturele regte word gegee vanaf die Here en is dit ons verantwoordelikheid om hierdie te koester, te gebruik en te bou. Die Afrikaner het ’n ryk geskiedenis van veerkragtigheid juis oor ons weet ons word deur die Almagtige beskerm.
Die kultuur van opstand teen onreg strek ver terug in ons kulturele herkoms, Die Hervorming vanuit Wes-Europa, die opstand teen koloniale en plaaslike magte en vandag die weerstand teen die afplatting van ons kultuur.
Ons geveg is egter vir die voortbestaan van ons kultuur en beaam ek in hierdie stuk dat ons soos ons voorgangers bankvas moet staan vir ons Westelike tradisies van geloof, orde, vryheid en bou. Dit is belangrik hier om onsself in konteks van die ontwikkeling van die Westelike beskawing te plaas en die uiterse groot rol wat die Afrikaner gespeel het om Westelike tradisies na Afrika te bring, skaamteloos te erken en daarop te bou.
Elke dag, as ons ontwaak, prys ons die Here vir die plekkie onder die son wat aan ons toegeskryf is, die mense waarvoor ons verantwoordelik is en die kultuur wat in ons hande lê.
Wees vir seker, ek en jy is hier om te bly. Bevestig dit saam op die 16de Desember en lê u Gelofte af.
Die vriendelike tannie, wat jaarliks haar huis met feesliggies vir die kersseisoen laat ophelder, se oë blink wanneer sy vertel van kinders en selfs ouer persone wat die kleurvolle liggies in haar tuin gedurende dié tyd geniet en waardeer.
Meisie Pieters vertel dat dit haar ‘n paar dae neem om al die liggies uit te sorteer, die batterye na te gaan en dan die besondere detail aan te bring.
Gaan loer gerus oor die hek in Oniksstraat, naby die swembad, want die skouspel vol bewegende, verligte bokkies, vrolike kieries, kleurvolle kersbome en vele meer sal voorwaar jou gemoed ophelder!
Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) het aan die einde van November in die Karoo rondgery om met lede van die verskillende kultuurgemeenskappe te gesels en opnames te maak om die onderskeie vorme van Karoo-Afrikaans op film vas te vang.
Sandra Prinsloo, bekende aktrise en verhoogkunstenaar, het as SBA se Ondervoorsitter die onderhoude met sprekers gevoer en die Apollo Teater was een van die plekke wat aangewend is vir dié gesprekke se opnames. Die Applous Café het heerlike kos en koffie bedien terwyl die span van SBA in Victoria-Wes gekuier het. Die SBA se missie is om geletterdheid deur Afrikaans te ontwikkel en om respek vir die taal te bewerkstellig.
Die redakteur van Koerania het die geleentheid aangewend om met Sandra Prinsloo oor haar planne vir 2025 te gesels en ‘n moontlike besoek aan Orania te bespreek.
Op Maandag 2 Desember moes Orania en Bo-Karoo Opleiding van hul geliefde voldoenings-en eksamenbeampte afskeid neem. Anneke het ‘n fatale hartaanval gehad en is in die Orania Kliniek oorlede.
Anneke Canei het ‘n sleutelrol gespeel in BKO se akkreditasie en voldoening, en haar toewyding en harde werk het ‘n groot bydrae tot BKO se sukses gelewer.
Innige medelye is aan haar familie, vriende en geliefdes gerig. Haar lewe was ‘n voorbeeld vir baie.
Die gelofte wat die Voortrekkers in 1838 gemaak het, is een van die mees betekenisvolle oomblikke in ons geskiedenis. Op daardie dag het hulle belowe om ’n dag aan die Here toe te wy as ‘n rusdag indien Hy hulle die oorwinning oor die Zoeloe-leër sou gee. Hierdie gelofte, wat op 16 Desember herdenk word, is nie net ’n historiese gebeurtenis nie, maar ’n handeling wat diep gewortel is in wat die Bybel leer oor geloftes.
Kom jou geloftes na
Die Bybel gee duidelik riglyne oor geloftes. Deuteronomium 23:21-23 sê: “As jy aan die Here jou God ‘n gelofte doen, moet jy nie versuim om dit te betaal nie; want die Here jou God sal dit sekerlik van jou eis, en dit sal sonde in jou word.” Hieruit leer ons dat geloftes ’n ernstige saak is, iets wat nie ligtelik gemaak of gebreek mag word nie.
Die boek Prediker waarsku verder dat dit beter is om nie ’n gelofte te maak as om een te maak en dit dan nie na te kom nie (Prediker 5:4-5). Dit wys vir ons die heilige aard van ’n gelofte teenoor God. Dit mag nie as ’n strategiese ooreenkoms of pligpleging beskou word nie, maar moet gesien word as ’n daad van diepe afhanklikheid en gehoorsaamheid aan Hom.
Geloftes is nie beloftes nie
Die Bybel onderskei duidelik tussen geloftes wat mense aan God maak en die verbondsbeloftes wat God met Sy volk sluit. Byvoorbeeld, Jakob maak ’n gelofte in Genesis 28:20-22 waarin hy verklaar dat die Here sy God sal wees as die Here hom beskerm en seën. Dit is ’n daad van geloof, maar dit hang van God se voorsiening af.
God se beloftes is altyd standvastig en seker soos 2 Korintiërs 1:20 ons herinner: “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.” God se verbondsbeloftes aan Abraham, Moses, en Dawid is ewige tekens van Sy getrouheid en onveranderlike liefde. God maak nou nog aan elke gelowige beloftes. Beloftes oorspan selfs geslagte.
Geloftes in Christus
Alhoewel die Boeregelofte dikwels in die lig van volksidentiteit beskou word, moet ons besef dat alle geloftes slegs waarde en betekenis kry in die lig van God se verbondsluiting. Die Here het Homself in genade aan sy kindersverbind deur die verbond, en hierdie selfbinding maak dit vir gelowiges moontlik om geloftes in afhanklikheid aan Hom te maak. Hierdie diepe verbondsverhouding is alleen moontlik deur Christus, die Hoof en Middelaar van die verbond, soos Hebreërs 9:15 verklaar: “En daarom is Hy Middelaar van ’n nuwe testament, sodat ons … die belofte van die ewige erfenis kan ontvang.”
Christus, as die Hoof van die verbond, is die fondament waarop elke gelofte rus. Sonder Hom sou enige gelofte ’n kortstondige menslike poging wees, maar deur Christus kry dit ewigheidswaarde. Geloftes wat gemaak word, is daarom onlosmaaklik gebind aan Hom wat die vervulling en sekerheid van God se verbond is. In Hom ontvang ons nie net die voorreg om geloftes te maak nie, maar ook die krag en genade om dit na te kom, tot eer van God en tot die opbou van Sy koninkryk.
16 Desember
Die gelofte van onsvolk herinner ons aan die Here se voorsienigheid in die geskiedenis. Dit wys ons die noodsaaklikheid om dankbaar te wees en toegewyd aan God te lewe. Gelowiges vandag, moet erken dat enige belofte wat ons maak, nie ons eie planne of vermoëns kan weerspieël nie, maar volledig gegrond moet wees op die soewereiniteit van Christus en sy heerlikheid.
Die erfenis van 16 Desember is daarom ’n geleentheid om nie net ons volk segeskiedenis te herdenk nie, maar ook te besin oor ons eie band met God. Ons moet daarom soos die gelowiges van vroeër, ons lewens en geloftes voor God bring, en alles doen in gehoorsaamheid aan Christus, tot Sy eer.