Skolenuus

Skolenuus

Dian Steyn is as hoofseun vir 2024 aangewys en Anja van Wyk as hoofdogter van CVO-skool.

Dian Steyn en Anja van Wyk sal gedurende 2024 aan die stuur van sake by Orania CVO-skool as hoofleiers staan.
Hulle sien daarna uit om deur ‘n sterk voorbeeld te lei en wil saam ‘n verskil in ander se lewens maak. “Ons sal graag na ons mede-leiers se opinies luister om by die beste kreatiewe plan of oplossing uit te kom,” vertel hulle. Leierseienskappe wat hulle admireer en wil nastreef is doelgerigtheid, dissipline, respek en ‘n vermoë om te diligeer. Hulle is gereed om hul mede-Dassies te dien, maar moedig elkeen aan om hulle beste pogings aan te wend om van 2024 ‘n sukses te maak. Dian sê: “Ek is oortuig dat ons skool in die toekoms nog baie hoogtes gaan bereik, met ons oë gerig op ons Hemelse Vader!”

Wilmien Janse van Vuuren (2024 voorsitter),
Sheva-Ann Nel (2024 ondervoorsitter)

Wilmien Janse van Vuuren is die nuutgekose Voorsitter van Volkskool Orania se Senaat en Sheva-Ann Nel is as Onder-Voorsitter verkies.
Dié twee meisies is dit eens dat ‘n leier mense moet inspireer om te groei. Hulle glo in effektiewe kommunikasie waar daar ook na ander se perspektiewe geluister word. Leierseienskappe wat hulle nastreef is eerlikheid, empatie, integriteit, goeie kommunikasie en lojaliteit. Hulle wil as ‘n span hul mede leerders motiveer en sien uit na die uitreikgeleenthede wat in samewerking met die gemeenskap beplan word. Hulle sê: “Mag die nuwe jaar vir al ons mede-Volkskolers ‘n tyd van groei en sukses wees. Pak alle uitdagings met selfvertroue en gryp geleenthede met entoesiasme aan. Mag daar nie net persoonlike groei wees nie, maar ook akademiese hoogtepunte bereik word.

Orania CVO-skool het stylvol by hul matriekafskeid opgedaag

Volkskool se matrieks het behoorlik partytjie gehou vir hulle afskeid. Hier is van die leerders en hul metgeselle in hulle spog uitrustings.

TAGS:

Orania se openbare kunswerke is besienswaardig– elk met ‘n unieke storie

Orania se openbare kunswerke is besienswaardig– elk met ‘n unieke storie

As ‘n besoeker in Orania arriveer is daar ʼn paar plekke wat ‘n ruspose die moeite werd maak. Dié plekke is geskiedenis- en kultuurbakens van die Afrikaner en vorm deel van ons dorp se karakter.
Die belangrikheid van openbare kuns
Openbare kuns dien twee primêre funksies: Dit bied `n hulpmiddel vir ekonomiese herlewing en skep gemeenskapsidentiteit. Dit verhoog die gemeenskap se lewenskwaliteit deur vir sy burgers ‘n medium te bied om hulle identiteit uit te druk. Dit verteenwoordig `n gevoel van gemeenskapstrots en dit bring mense bymekaar.
Die Orania monumentkoppie is ʼn simboliese terrein om te besoek. Daar is borsbeelde van bekende Afrikanerfigure in ʼn halfmaan geposisioneer en hulle almal se oë is op die klein reus in die middel van die halfmaan gerig. Die klein reus rol sy mou op, omdat hy weet daar is baie werk wat self gedoen moet word.
Die klein reus is Orania se simbool vir selfwerksaamheid en eie arbeid en daarmee saam beteken sy naam dat hy klein is maar dat die werk wat hy verrig en sy idee vir vryheid reusagtig is. Die klein reus kyk uit oor Orania in die toekoms, maar hy is gegrond in sy voorouers en die verlede. Dié beeld is deur Kaalvoet opgerig.

TAGS:

‘n Baljaarplek vir almal

‘n Baljaarplek vir almal

Die kinders kon hul opgewondenheid nie verdoesel nie. Die knip van die lint het dit amptelik gemaak.
Kleingeluk se gemeenskapspark is oop!

Die samewerking tussen Solidariteit Helpende Hand en Werk en Welstand het tot groot vreugde vir die kinders van Kleingeluk gelei. ‘n Ruimte waar daar gespeel en gebaljaar kan word is ‘n luukse in ‘n dig beboude gebied. Orania het die voorreg om publieke ruimtes te skep waar daar vrylik beweeg kan word en gesonde ontspanning geniet kan word
Dr Dirk Hermann, Bestuurshoof van Solidariteit, het met die amptelike opening van die parkie gesê dat die park vir kinders geskep is, maar dat ouers hul kinders moet vergesel sodat hulle as opvoeders kan deel in die opvoedkundige waarde van speel, ontspanning en vars lug.
Ds Hannes Noëth, Uitvoerende Hoof van Helpende Hand, het beklemtoon dat dié gemeenskapsparkie die enigste diesulke projek van sy soort uit meer as 10 000 gemeenskapsprojekte wat Helpende Hand vanjaar oral in die land aangepak het. “’n Park skep ‘n geleentheid om te onthou, ‘n nes, ‘n veilige omgewing, ‘n plek waar jy kan hoort,” noem hy.
Die uitvoerende hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, Frans de Klerk, het sy dank teenoor die konstruksiespan uitgespreek en die gehoor ingelig van nog 100 erwe wat in Kleingeluk ontwikkel gaan word.
Christiaan van Zyl, bekende argitek het die park ontwerp en kan beslis met trots na vele van sy ontwerpe in Orania kyk.
Dr Hermann het gesê dat die parkie nou die gemeenskap se eiendom is, dat hul dit moet koester, die parkie as rusplek moet gebruik, maar ook as gesinne die vryheid van die park moet geniet.

TAGS:

Selfsorg akkommodasie waar die gesin saam kan kuier en rus

Selfsorg akkommodasie waar die gesin saam kan kuier en rus

Orania is op die oewer van die bekende Oranjerivier geleë. Hier is meer as dertig bekostigbare selfsorg gastehuise en akkommodasie-opsies om van te kies. Orania is in die Noord-Kaap geleë, 40 km van Hopetown af, 160 km van Kimberley af en die N12 maak die rit gerieflik. By Hopetown draai jy af na die R369 en vind jou laaste klompie kilometers na Orania. Jy kan via Bloemfontein ook by ons uitkom.
Kom hou vakansie in die dorp met die oewer van die Oranje, die mooiste swembad, skoonste omgewing en die vriendelikste inwoners. Hier kan jy vryheid smaak, na willekeur rondstap, fietsry en ons vars lug inasem.
Onderneem ‘n gratis dorpstoer en vind uit hoekom die Afrikanertuiste so vinnig groei. Jou sakpas-gesinsvakansies by die rivier is moontlik! Orania bied verskillende soorte akkommodasie waar jy meestal per persoon betaal. Voeg hierby ’n magdom aktiwiteite en ontspanningsgeriewe, restaurante, koffiewinkels, klerewinkels, geskenkwinkels, geriefswinkels en vele meer.
Vir die sportliefhebbers is daar tennisbane, netbalbane, jukskeibane, ‘n gimnasium, ‘n rugbyveld, ‘n atletiekklub, perdry en meer.
Orania bied aan enige persoon wat sy geskiedenis koester ‘n geleentheid om weer te onthou waarom hy of sy trots Afrikaner mag wees! Jy gaan egter moet opskud, want Orania woel gedurende die feesseisoen.

 

Kontak die Orania Beweging se Inligtingskantoor by 053 207 0062 vir meer inligting.

TAGS:

deur die Burgemeester se Bril – Des 23

deur die Burgemeester se Bril – Des 23

Die afgelope tyd fassineer die woord gemeenskap my. ‘n Mens kry dadelik die idee van behoort, om deel te wees, om saam te wees, om indiwiduele bydraes te waardeer. Gemeenskap, so voel dit vir my is iets moois, geweldig kosbaar. Dit is iets om na te strewe.
Daar bestaan verskeie definisies vir gemeenskap. Maar wat beteken dit vir ons in Orania? Sou dit kon beteken dat ons saam aan ‘n storie skryf? Dalk is ‘n gemeenskap ‘n groep mense wat besig is om saam aan ‘n identiteit te bou, want daar is waarlik iets van almal in die storie van ons gemeenskap. Natuurlik is daar baie verskillende soorte gemeenskap, maar vir my is die gemeenskap van Orania die een wat nou van belang is, want dit is die een waarin elkeen van ons ‘n unieke rol speel.
Is gemeenskap die rede dat ons tog as ‘n groep verstaan dat ons morele integriteit wil bevorder? As ‘n groep het ons sekere verwagtinge en sekere ideale en daarom deel ons almal in die vreugde as Orania sukses behaal of van buite af geprys word. Maar dit maak ook seer as Orania van buite-af aangeval word. Dit maak nog seerder as Orania van binne-af aangeval word. As jy na binne toe skiet, dan skiet jy tog ook ‘n deel van jouself raak. Dit is daardie wonde wat die hele gemeenskap laat pyn.
Gemeenskap is om saam aan die storie te skryf, selfs wanneer ons van mekaar verskil, want ons het net mekaar oor. Gemeenskap is om betrokke te raak en jou stem te laat hoor, want ons storie is belangrik genoeg om mee moeite te doen.
Vanoggend vertel iemand my dat hy sy tuinwater deur die aand aan vergeet het en hoe skuldig hy daaroor voel omdat ons nou almal moet mooi werk met die rouwater. Hy vertel dat sy buurman in die vroeë oggendure sy kraan kom toedraai het. Die buurman wat elke oggend vir hom waai, het vanoggend vir hom vinger gewys. Hy het dit so aanvaar, want hulle is daagliks deel van mekaar se storie.
In Orania skryf ons ‘n nuwe storie vir Afrikaners. Aan die een kant behou ons ‘n identiteit, met ‘n eie taal en geskiedenis, aan die ander kant skryf ons oor nuwe beginsels met ‘n nuwe woordeskat, maar dit is alles deel van óns storie.
Mag ons gemeenskap beleef in Orania. Mag ons met sagte oë na mekaar kyk, veral as ons verskil.

TAGS:

Bandemeester papwiel101

Bandemeester papwiel101

Foto: Karen J v Rensburg

Veilige vroue… Die feesseisoen en Desembervakansie is hier en daar ontstaan ongelukkig gereeld ongemaklike en onvoorsiene omstandighede met voertuie wanneer ‘n familie of vrou-alleen die langpad aandurf.

 

Bandemeester het op 16 November ‘n damesaand aangebied waartydens dames touwys gemaak is in die ruil van ‘n pap band wanneer hulle alleen in ‘n voertuig sou wees. Volgens Pieter du Bruyn, bestuurder van Bandemeester, was Papwiel101 ‘n reuse sukses en meer as 40 vroue het die aand bygewoon. Die feit dat die vroue sukses kon smaak en kon uitvind dat dit nie so moeilik is as wat hul verwag het nie, het tot groot glimlagte bygedra. Daar word beplan om sommer vroeg in 2024 ‘n volgende inligtingssessie aan te bied.

0:00 / 0:00
Bandemeester se Damesaand Terugvoer
TAGS:

‘n Eerste Proefplaas wat Leer-my-hoe bevorder

‘n Eerste Proefplaas wat Leer-my-hoe bevorder

Links: Michelle Rust, lektor vir Boerderybestuur aan die woord.

Regs: Org du Plessis is ‘n direksielid wat SAAI tydens die bekendstelling van die proefplaas verteenwoordig het.

Die beste woorde wat enige jeugdige entrepreneur vir ‘n kundige persoon kan vra is: Leer-my-hoe? Dit is die naam van die eerste Proefplaas wat onlangs op ‘n hoewe in Orania geopen is.

 

Paul Vogel, die uitvoerende hoof van die Bo-Karoo Opleidingsentrum, het met trots sy personeel en landboustudente geluk gewens met hul vordering en die bou van die eerste proefplaas en tonnel om groente te verbou. Paul het beklemtoon dat arbeidadel ‘n belangrike kernwaarde is en dat die suksesvolle uitvoering van take bydra tot goeie waardes. “BKO studente is rentmeesters, want hulle bou die land waarop hulle geplaas word,” sê hy.

 

Die direksielid van SAAI, Org du Plessis, het in sy toespraak genoem dat kennis, ritme en uithouvermoë belangrike kwaliteite is wat aan die volgende generasie oorgedra moet word. Dr Dirk Hermann, Bestuurshoof van Solidariteit het bygevoeg dat Afrikaners se antwoord op ‘n krisis is om ‘n landboukollege of ‘n boerdery te begin, omdat ons oplossings nastreef.

 

Marcel Badenhorst, lektor by die landboudepartement, het die studente bedank, gelukgewens en uitgedaag om steeds na uitnemendheid te mik.

 

Registrasies vir studente om by enige van BKO se studierigtings aan te sluit is reeds oop. Besoek www.bokarooopleiding.co.za vir volledige besonderhede.

Plant iets, want ons sal self!
Marcel Badenhorst
Paul Vogel: Uitvoerende Hoof BKO
TAGS:

Pieter stap doelgerig saam

Pieter stap doelgerig saam

Die Red ‘n plaas Camino het op 14 April in Williston begin en op 22 April in Verneukpan klaargemaak. Dit het beteken dat 120 stappers die 166 km binne 7 dae te voet sou moes aflê. Negentig vroue en dertig mans het die staptog begin, maar nie almal kon byvoorbeeld die “ongerieflike” toilet- en badgeriewe, wind en ver stap hanteer nie en het ongelukkig nie die staptog voltooi nie.

 

Pieter van der Walt is ‘n boer in murg en been en wou nie die geleentheid laat verbygaan om met hierdie waardige projek sy deel te doen nie. “Ek het Erns Grundling met sy televisieprogram, Elders, dopgehou en dit het my lus gemaak om ook so iets te ervaar. Nou wil ek nie ophou nie,” beskryf Pieter ewe bedees.

 

Hy vertel dat die meerderheid bagasie genadiglik op ‘n trok gelaai word en dat elke stapper slegs hul water en kos vir die dag saamdra. Hy vertel met ‘n glimlag dat daar mense van diep in hulle sewentigs die staptog voltooi het.

 

Dankbare boere het langs die roete, wanneer die stappers dit die minste verwag, hulle met koue waatlemoen, roomys, energiedrankies of suikersoet pannekoek bederf. Dit is maar een van die maniere waarop boere hulle dankbaarheid vir die Red ‘n plaas stappers getoon het.

 

Moet nie dink dat die stappers afgeskeep is met lekkergoed nie. In die aande het die smokkeltrokkie allerhande bederfies gebring wat hulle kon koop om te geniet. Elke vyf kilometer van die tog is ‘n waterpunt en ablusiegeriewe beskikbaar gemaak.

 

Ontbyt en middagetes was elkeen se eie verantwoordelikheid. Pieter het twee trommels gepak met klere, noodsaaklike noodmiddels, graankosse en melk vir ontbyt en biltong, droë wors, droë vrugte en sweeties vir middagetes saamgeneem. Smaaklike aandetes is by hul kampplekke bedien.

 

“Jy stap op jou eie wanneer die staptog begin. Jy het tyd om oor die lewe te besin. Dit word ‘n binnereis,” sê hy op ‘n ernstige noot. Die daaglikse 20 tot 27 km se geloop beteken dat jy verskillende mense langs die pad ontmoet en Pieter vertel dat jy naderhand soveel mense leer ken dat daar selfs genoeg tyd is om na mekaar se stories te luister.

 

“Alleen stap kry jou kop skoon, maar myne het nie skoon gekom nie,” skerts hy. Oor die redes waarom elkeen die staptog aangedurf het was daar uiteenlopende reaksies. “Sommiges het ‘n hart vir die boere en ander is stukkende mense wat ‘n doel vir hul eie lewens soek.” Pieter voel dat dit wel moontlik is om heel te word aangesien jy tyd het om te dink aan wat moet verander. “Van die mense kan self herstel, maar die gesels met ‘n vreemdeling en die deel van jou hartseer, help individue om beter te voel,” deel hy.
In die aande slaap elkeen in sy eie tentjie wat jy self moet opslaan en moreoggend dou voor dag moet afslaan. “Weens my persoonllikheid het ek maar altyd mense om my,” spot Pieter. Hy het maar handjie bygesit as daar iemand was wat hulp benodig het met blase op die voete, skoene wat pla of selfs ‘n ligte oomblik nodig gehad het.

 

(word vervolg… volgende maand vertel Koerania meer van Pieter se Tankwa Camino).

 

TAGS:

Marianne Gerber

Marianne Gerber

Sy is byna 16 jaar al ‘n personeellid van die Orania Dorpsraad, en is dol gelukkig om as debiteureklerk haar posisie met trots vol te staan. Marianne Gerber woon reeds agtien jaar in Orania, is met Armand getroud en hulle het 2 kinders, Mieke (9) en Ethan (13).


Sy beveel vir enige werknemer aan om ‘n liefde vir hulle werk te ontwikkel. “Ek kan my nie voorstel dat ek werk toe moet gaan en nie daarna moet uitsien nie,” vertel Marianne. Dit beteken vir haar baie om met betroubare kollegas omring te wees wat haar in haar werk versterk. Hulle werk al ‘n geruime tyd saam in die Korporatiewe Dienste afdeling en hul vul mekaar aan en staan mekaar by met raad en daad.


Marianne is verantwoordelik vir die uitstuur van diensterekeninge en daarin word akkuraatheid van haar verwag. Volgens haar afdelingshoof, Janneman Roux, is Marianne ‘n staatmaker wat smettelose lojaliteit vir haar werk, kollegas en instansie toon.


Marianne sal nie omgee om nog 15 jaar by die Orania Dorpsraad werksaam te wees nie, want elke dag is vir haar ‘n verrassing. “My dae is nooit voorspelbaar of dieselfde nie. Ek geniet die afwisseling wat my werk inhou.”

TAGS:

Vanessa Grundling

Vanessa Grundling

Vanessa is al vir ses jaar die dinamiese eienaar van die Orania Wassery. Volgens Vanessa is die algemene werk die was, droogmaak, stryk en opvou van klere en linne. Dié wassery lewer ‘n verskeidenheid dienste wat die was of stoom van algemene klerasie, manspakke, trourokke, linne, jasse en matte insluit.


Vanessa en haar man Peet woon reeds 16 jaar in Orania nadat hul voorheen in Kroonstad gewoon het. Vanessa het eers ‘n meubelwinkel bedryf, maar moes as gevolg van logistieke uitdagings die deure sluit. “Die grendelstaat het bygedra tot die uitdagings om voorraad van verskaffers wat ver van ons af is, te kry,” vertel sy.


Sy verduidelik dat kwaliteit diens beslis die rede is hoekom die wassery suksesvol is. Hulle poog altyd om die ekstra myl te stap vir hul kliënte deur seker te maak dat hul die klere of linne silwerskoon was en volgens hul versoek stryk.


Sy beaam dat daar ‘n goeie verhouding tussen werknemer en werkgewer moet heers om ‘n suksevolle besigheid te bedryf. “Kommunikasie is uiters belangrik en dra by tot goeie werksverhoudinge wat die werk vir almal aangenaam maak en kliënte kan duidelik sien as daar ‘n gemaklike atmosfeer by ‘n besigheid heers.” Haar glimlag spreek boekdele as sy vertel dat Annatjie Joubert, by wie sy haar besigheidsperseel huur, haar ‘n hupstoot van motivering gegee het deur ‘n perseel vir haar beskikbaar te stel vir die wassery.


Dié talentvolle vrou is ook ‘n bakster van formaat. Sy lewer gebakte produkte aan ‘n plaaslike winkel wat dit namens haar verkoop. Dié gebak sluit sjokoladekoek, soetkoekies, klapperys, fudge en vele ander soetigheid in.


Wanneer sy gesels oor die belangrikheid om die regte personeel aan te stel raak sy ernstig, want sy wil vir ander werkgewers aanbeveel om seker te maak oor die profiel van ‘n werknemer voordat hul enige persoon in diens neem. “‘n Werknemer kan jou besigheid maak of breek. Maak seker oor jou keuses.”

TAGS: