Bo-Karoo Opleiding skep verdere bewusmaking by KragDag

Bo-Karoo Opleiding (BKO) het van 8 tot 10 Augustus by KragDag 2024 onder die tema “Daar is ‘n alternatief” uitgestal. Hierdie geleentheid was ‘n belangrike stap om BKO se kenmerk te versterk en verdere bewusmaking te skep oor die opleiding en kursusse wat hul bied. Besoekers kon meer leer oor ons programme, insluitend Boerderybestuur, Bou en Siviele Konstruksie, Elektries, Loodgieter, Vroeë Kinderontwikkeling, Tuisversorging, Tuissorgassistent, en ‘n voorsmakie van die Nutsman-kursus wat in 2025 bekendgestel word.
BKO se teenwoordigheid by KragDag het hul toewyding aan professionele ontwikkeling en vaardigheidsopleiding verder onderstreep. Hul stalletjie het ‘n bestendige stroom besoekers gelok, wat grootliks bestaan het uit mense wat reeds vertroud is met die instelling en diegene wat graag meer oor hul kursusse wou uitvind.
“Dit was ‘n opwindende geleentheid om met potensiële studente en hul gesinne te gesels,” sê Paul Vogel, BKO se uitvoerende hoof. “Die belangstelling wat ons waargeneem het, wys dat mense na gehalte opleidingsopsies soek, en ons is trots om deel te wees van hierdie oplossing.”
BKO se deelname aan KragDag 2024 was suksesvol en het die konsep van ‘n “kampus sonder mure” verder gevestig.

Foto – Verskaf

Die Bo-Karoo Opleidingsentrum-uitstalling is onder andere deur Johan Klinck, departementshoof van ambagte, en Hanlie Pieters, bemarkingsbestuurder, beman
Die Bo-Karoo Opleidingsentrum-uitstalling is onder andere deur Johan Klinck, departementshoof van ambagte, en Hanlie Pieters, bemarkingsbestuurder, beman
TAGS:

KragDag sit nog ‘n bemarkingsveer in Orania se hoed

Op 8, 9 en 10 Augustus is Sakeliga KragDag Sentraal by die Diamantvallei Landgoed, 20km buite Pretoria, met groot sukses aangebied. Met ‘n slagspreuk soos “doen jou eie ding” was dit die perfekte plek vir Orania om ook drie van sy instellings daar te laat uitstal.
Pieter Biscchoff, hoof van inligting en bemarking by die Orania Ontwikkelingsmaatskappy vertel dat hul stalletjies deur besoekers genader is wat goed ingelig is oor Orania. Opmerkings soos “julle is die ouens wat vorentoe beweeg” en “julle is suksesvol” is gereeld geopper.
Volgens Pieter en Frans de Klerk, kommunikasiebeampte van die Orania Beweging, is daar telkens na Orania verwys as ‘n suksesverhaal van die Afrikaner. Daar word geraam dat ongeveer 17 000 voete per dag deur die hekke beweeg het. “Dit maak die byna 700km uitstappie definitief die moeite werd. Bloot net om mense se oë te sien rek wanneer hulle met verbasing opmerk dat Orania ook daar is het getoon dat Orania se betrokkenheid erken word,” noem Frans.
Paul Vogel, uitvoerende hoof van die Bo-Karoo Opleidingsentrum, wat die derde uitstalruimte namens Orania opgeneem het, sê: “Voornemende studente en hul ouers was nuuskierig oor ons kursusse en die feit dat ‘n student in veiligheid hul ambag kan bemeester.”
Die algemene terugvoer van Orania se verteenwoordigers is dat mense steeds meer wil uitvind oor Orania en vrae gevra het wat strek van die sonplaas tot Ora’s. Hul spreek die moontlikheid uit dat mense wil kom kuier om die dorp self te beleef.
“Dit is vir Orania ‘n belangrike mark om by betrokke te wees, aangesien daar baie Afrikaners in die ou Transvaal is wat opsoek is na ‘n toekoms vir hulle kinders, hul kultuur en hul geloof,” beaam die drie Orania instellings.
‘n Warm en stowwerige paar dae was met glimlagte aangepak om die swaarkry met lekkerkry klaar te kry.

Foto – Verskaf

Frans de Klerk en Pieter Biscchoff gesels met besoekers aan die Orania stalletjies tydens die Kragdag 2024 ekspo.
Frans de Klerk en Pieter Biscchoff gesels met besoekers aan die Orania stalletjies tydens die Kragdag 2024 ekspo.
TAGS:

Tannie Lenie en oom Piet trek

Tannie Lenie en oom Piet Kotze het vanaf 1 Maart 2014 tot 31 Julie 2024 in Orania kom aantree om diep spore in die maatskaplike dienste van Orania te trap. ‘n Paar vriendinne het besluit om tannie Lenie oor ‘n koppie tee en ‘n soetigheid te groet, voordat die treklorrie sy neus in die Wes-Kaap se rigting druk.
Daar is ‘n rits gevleuelde woorde uit die harte van vriendinne met tannie Lenie gedeel. Die trane het gevloei en baie koesteroomblikke is herhaal sodat sy sonder twyfel kon weet dat sy waardeer word en dat elke Oraniër haar en oom Piet ‘n geseënde toekoms toebid.

Fotos – Dia van Staden

TAGS:

Boekenuus: Lisa liefbesie se sewe verlore kolle

RIANA SCHEEPERS

Meer oor die boek
Ontmoet Lisa Liefbesie, ‘n pragtige liewenheersbesie met bloedrooi vlerkies en helder swart kolle. Sy is geliefd deur al die diere op die groot plaas waar sy woon. Maar op haar verjaarsdag gebeur iets skrikwekkends – haar mooi kolletjies verdwyn spoorloos! Volg Lisa op ‘n opwindende avontuur terwyl sy soek vir haar kolle. Ontmoet vriende soos Kollehond, Bessie die Frieskoei, en Takelane Tarentaal, wat almal probeer help om die raaisel op te los. Sal Lisa haar kolletjies vind voordat haar verjaarsdagpartytjie verby is?

Uitgewer: Lapa

TAGS:

Klawers in die boord

Op Saterdag 27 Julie het ‘n groot groep talentvolle klavierspelers hulle litte losgemaak om Huppelkind Dag-sorgsentrum se jaarlikse fonds-insameling, Klawers in die boord, moontlik te maak.
Die toeskouers het met piekniekmandjies in die middagson op gemaklike kampstoele en uitspankombersies tussen die pekanbome van die Dendron Pekanboerdery hul sit gekry.
Daar is vir ongeveer twee ure na pragtige klawermusiek geluister terwyl daar ‘n ligte, maar lekker atmosfeer geheers het. Moche Naudé en Emma de Villiers is twee kinders wat hulle vernuf vanjaar kom deel het.
Ander deelnemers het onder andere vir Esmien Kruger, Elsa Nothnagel, Annamarie van der Merwe en Magdaleen Kleynhans ingesluit.

Fotos – Dia van Staden

TAGS:

Grondlyn – Begronde riglyne vir vandag se vrae

Taal wys wie jy is

Alistair van Heerden – Begrond

Taal is meer as net ’n middel van kommunikasie; dit is om oop te maak. Die Bybel leer ons dat taal is nie bloot ’n menslike uitvinding of ’n kommunikasiemiddel nie. Dit is ’n goddelike gawe waardeur God Homself aan die mensdom bekendmaak. Met die fokus op Orania se Taalweek kyk ons na die oorsprong en doel van taal.

God maak oop

God openbaar Homself deur sy Woord. Die selfopenbaring van God begin reeds by die skepping. In Genesis 1 sien ons hoe God die wêreld tot stand bring deur te spreek: “En God het gesê: ‘Laat daar lig wees!’” (Gen. 1:3). Die woorde openbaar die krag en gesag van die Here. Ons leer dat wanneer God praat, Hy nie net die werklikheid vorm nie, maar ook sy eie karakter en wil openbaar.
Die selfopenbaring van God deur sy Woord kom tot vervulling in die Here Jesus Christus. Hebreërs 1:1-2 vertel ons hoe God deur die geskiedenis op verskeie maniere gespreek het, en toe in die volheid van die tyd, die volmaakte openbaring van Homself gegee het deur sy Seun, die Here Jesus Christus.
Die Here Jesus Christus is die vleesgeworde Woord van God (Johannes 1:14). In Christus is die volheid van God se openbaring tot ons gebring – nie net deur sy woorde nie, maar ook deur sy lewe, sy dade, en uiteindelik sy offer aan die kruis. In Hom het ons die finale en volmaakte selfopenbaring van God, waar ons die Vader ten volle kan leer ken.

Sê wie: God of mens?

Mense sien taal dikwels as ’n blote hulpmiddel vir kommunikasie. Hoewel menslike taal ook iets van onsself openbaar, is dit beperk en dikwels onvolmaak. Ons woorde is onderhewig aan misverstande en misbruik. Dit word ook gebruik om God se waarheid te verdraai en te verwerp. Ons lees in Jakobus 3:8-10, die tong het die mag om groot skade aan te rig, maar dit kan ook gebruik word om God te loof.
Aan die ander kant, God se Woord is volmaak. Dit openbaar vir ons wie God is en wat sy wil is vir ons lewens. Hierdie Woord het na ons gekom deur die verkondiging van die Evangelie, waarin Christus, die vleesgeworde Woord, sentraal staan. Christus, die Woord, kom self na ons toe om ons te red, te verander, en te lei in die weg van die waarheid. God het in sy groot genade verseker dat sy Woord ook tot ons gekom het. Deur die inwoning van die Heilige Gees word die Woord lewend en kragtig in ons harte, sodat ons Hom kan ken en in sy lig kan wandel.

Taal getuig van verbinding

Ons gebruik van taal openbaar baie oor ons verhouding met God. Deur ons woorde en dade toon ons of ons God se openbaring aanvaar en daarop reageer, of ons dit verwerp en teëstaan. Wanneer ons taal gebruik, of anders gestel, wanneer ons oopmaak om waarheid te verkondig en God te verheerlik, bely ons dat ons verstaan wie Hy is en wat Hy van ons verwag.
Daarom is taal ’n weerspieëling van ons geestelike toestand. Dit is ’n openbaring van onsself. Ons taal vertel aan ander waaraan ons onsself bind. Daarom moet ons, as dissipels van Christus, daarna streef om ons taal tot instemming te bring met die waarheid van God se Woord (1 Tim. 6:3-5).

 

TAGS:

Moederskap: Carien en Gerhard plaas God eerste

Dia van Staden – Redakteur

Die voorbereiding vir ‘n eersteling was deel van Carien en Gehard Strauss se huweliksplan toe hul op 30 Maart 2023 in die eg verbind is.
Carien wou nie uit die staanspoor uitblaker dat sy swanger was nie en het maar met naarheid en moegheid gesukkel gedurende haar 12 ure werksdae. Andersins was haar grootste uitdaging tydens haar swangerskap om die laaste twee weke sonder Gerhard naby Bloemfontein te woon, en vir hul baba se koms te wag.
Carien het haar fisiese beweeglikheid en aanpas van haar dieet nie maklik gevind nie. “Ek kon nie saam met Gerhard die hele dag sit en visvang op die boot nie, want ek moet kort-kort ‘n badkamer opsoek. Perdry is uit en om ‘n rivier op 26 weke te probeer deur swem is dalk nie slim nie,” lag sy. Die dra van klere vir swanger vroue was nie vir haar pret nie en sy moes nog nooit soveel water op ‘n dag drink nie.
Hulle het op ‘n watergeboorte besluit en vroedvroue moes raad gee omdat klein Willem verkeerd gelê het vir ‘n normale bevalling. Carien het vir drie weke getrou die oefeninge gedoen, maar op 39 weke was daar steeds geen verandering nie. Carien is self ‘n suster en het vooraf besluit dat keisersnee ‘n absolute laaste uitweg sou wees. “So iets laat jou weer besef dat die Here in beheer is, en daarom was ek meer as gewoonlik op my knieë,” erken Carien.
Die Here was getrou en Willem het in die laaste week van haar swangerskap reg gedraai. “Ek was nog nooit in my lewe so bly om pyne te kry nie, want dit was ‘n aanduiding dat ek normaal sou kon geboorte skenk” vertel sy.
Op Sondag 14 Julie om 21:50 het Willem sy opwagting by ‘n kliniek in Bloemfontein gemaak. Hy het 3055g geweeg en was 49cm lank. Carien het die watergeboorte en kraamproses baie positief ervaar. “Die wonderlikste vir my was dat ek en my man daardie aand rustig met ons klein babatjie tussen ons kon slaap. Ek het self nie besef hoeveel dit vir my sou beteken dat Gerhard nie hoef huis toe te gaan na die tyd nie, maar dat ons bymekaar kon wees en saam kon dankbaar voel vir so ‘n groot voorreg en seën wat die Here vir ons beskik het om ‘n klein verbondskindjie te mag ontvang.”
Hulle het by die tradisie gehou en Gerhard se pa vernoem. Klein Willem is dus die sesde geslag in ‘n ry wat Willem gedoop word.
“Na die geboorte was ons in verwondereing oor die klein mensie wat skielik net so weerloos en perfek in ons arms lê. Daardie oomblik wat die baba gebore word is werklik so spesiaal soos almal sê. Mens voel opeens net so lief vir die klein mensie wat jy nog eintlik moet leer ken. Dit is werklik een perfekte goue oomblik in ‘n mens se lewe,” babbel sy vrolik.
Willem se ligblou en grys kamer wag op hom, maar tans slaap hy knus tussen mamma en pappa.
“Soms maak Gerhard nou kos sodat ek saans eers na Willem se belange kan omsien. Ons moet alles nou rondom Willem en sy pakkaas beplan, want anders is ons oral laat. ‘n Vuil doek en ‘n honger baba laat alles eers tot stilstand kom.
Die spoed waarmee mamma deesdae bad, skottelgoed was en huis opruim is ongekend, want wanneer kleinman wakker word is al die aandag daar gefokus. Die ouerpaar is selektief met die keuses van geleenthede wat hul bywoon, want tyd is nou ‘n faktor.
“Jy besef eers jou ouers se harte as jy self ‘n kind het. Ons besef nou hoeveel hierdie liefde mens se keuses in die toekoms sal beïnvloed. Ons geniet elke oggend se wakkerword en saans as Gerhard by die huis kom die meeste. Mens let al die kleinste goedjies op met jou eie baba en alles is vir jou oulik en uniek.”
“My raad aan voornemende vroue wat wil trou is om ‘n man te kies wat die Here ken en vrees. Wanneer ‘n mens uiteindelik saam strewe na die wil van ons Vader is daar min van jouself in die pad wat tussen julle kan kom staan.”
Ek wil afsluit met Tim 2:15: Maar sy sal gered word deur kinders te baar, as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking, met ingetoënheid.

Fotos’ – Cara Tomlinson

Gerhard Carien en baba Strauss
Gerhard Carien en baba Strauss
TAGS:

Eugene de Kock gaan self skryf

‘n Paar weke gelede skryf Dana Snyman in Rapport oor sy gesprekke met Eugene de Kock. Dit bring herinneringe terug na 24 Augustus 2016 toe ek self die voorreg gehad het om saam met die berugte, maar wyd gerespekteerde lang man oor ‘n koppie koffie te gesels.
Eugene het saam met Anemari Jansen, die skrywer van Sluipmoordenaar van die staat, wat in 2015 verskyn het, by Café 41 in Groenkloof op my en ‘n vriendin gewag. Hy wou my bedank vir die feit dat ek bereid was om hom na die BoekeJol en FilmRolfees in Pretoria as deelnemer aan ‘n gesprek, te nooi. Nadat die advertensie vir die gesprek verskyn het, het die parooloffisier my egter geskakel om te sê dat Eugene glad nie toegelaat word om in die publiek op te tree nie, ensovoorts.
Na ‘n gesprek met Eugene en Anemari is daar besluit om hom as deelnemer te onttrek, maar hy was steeds dankbaar vir die gebaar. Die ongeveer twee ure in sy geselsskap was ‘n ervaring wat my altyd sal bybly.
‘n Paar mans het hom daar, waar ons op die restaurant se stoeparea gesit het, met groot respek genader en sy blad kom skud of selfs gesalueer. Wanneer hul weggestap het kon hy die naam en van, rang en magsnommer van elke man opnoem. Hy het getoon dat hy ‘n merkwaardige geheue het. Hy het vertel dat hy goeie koffie gemis het.
Meer nog was dit sy nederigheid wat jou opgeval het. Hy het elke vraag geduldig beantwoord en ‘n paar staaltjies van sy jare in die tronk gedeel. Niks daarvan was humoristies of vrolik nie, maar het die karakter van man met ‘n uiters sterk mentaliteit weerspieël.
Ek het die artikel van Dana met belangstelling gelees en opgewonde gemerk dat sy verswakte oë, wat vir hom in 2016 ‘n baie groot bekommernis was, geopereer is en dat hy weer kan lees – een van sy baie groot liefdes.
Ek sien uit na ‘n volgende koffie en na die feit dat hy nou self sy storie gaan vertel. Dit is tyd!
Lees gerus Dana se skrywe op sy Facebookblad.

Dia van Staden en Eugene de Kock het minder as ‘n jaar nadat hy op parool vrygelaat is ‘n gesellige gesprek oor ‘n koppie koffie geniet.
Dia van Staden en Eugene de Kock het minder as ‘n jaar nadat hy op parool vrygelaat is ‘n gesellige gesprek oor ‘n koppie koffie geniet.
TAGS:

Vrouemaand 2024

Hierdie vroue, sterk en stil,
Met hande wat bou en harte wat wil,
Hulle dra die las, met krag en eer,
Elke dag ‘n stryd, maar nooit ‘n keer.

Hulle werk met liefde, sonder kla,
En laat die wêreld blink en klaar,
Vroue wat skep, wat nooit verdwyn,
Hul drome diep, hul moed so rein.

Vir elke vrou wat swoeg en stry,
Jy is die lig, jy is die bly,
Met elke tree wat jy vooruit gaan,
Bou jy ‘n wêreld, met jou eie plan.

Christa Bredenhann

Reis deur die wêreld voordat jy 20 is. Koop eiendom in Orania (want toe was dit nog goedkoop). Hardloop ‘n marathon en hou aan oefen.

Marlene Joubert

Om te luister vir jou ouers WANT wysheid kom met grysheid. Moenie drome uitstel tot eendag nie, elke dag is spesiaal LEEF EN BELEEF dit en reik uit na jou droom. Wandel in jou eie voetspore, nie iemand anders s’n nie.

Elmarie Lambrechts

Oefen meer, eet minder en stel jouself bloot aan minder tegnologie

Helena Erasmus

Die opwindende pad is meestal nie glad geteer nie. Skryf die goeie en slegte tye neer sodat jy dit onthou en daaruit kan leer. Hou altyd aan om nuwe uitdagings aan te pak.

Marli de Lange

Die enigste kans wat jy het om te misluk is wanneer jy opgee, moet dus nie bang wees om kanse te vat, nuwe dinge te probeer of wéér te probeer nie. Om foute te maak is deel van die proses om iets merkwaardig te skep. Klein konstante stappies in die regte rigting is meer waardevol as die spoed waarteen jy beweeg. Hou op tyd mors om dinge te probeer verander wat buite jou beheer is. Fokus op dit wat jy kan verander - jou eie gedagtes, aksies en reaksies en vertrou dat die Here vir die res sal sorg.

Marcel Jacobs

“Don’t sweat the small stuff”...dit voel nou soos die einde van die wêreld, maar ek belowe jou, dit is nie! Dink vir jouself... moenie net alles vir soetkoek opeet wat mense vir jou sê nie. Prestasie op skool tel byna niks in die grootmenswêreld nie. Werk hard, maar fokus ook op die belangrike dinge in die lewe. Lees boeke wat jou as mens laat groei, doen aanlynkursusse wat jou voorberei vir die lewe en spandeer kwaliteit tyd saam die mense vir wie jy lief is.

Ria Maritz

Maak nie saak hoe moeilik dinge lyk nie, jy het die krag om deur alles te kom. Moet nie toelaat dat die mening van ander jou selfbeeld bepaal nie; jy is waardevol net soos jy is. Leer om jouself te omhels en om te groei uit jou ervarings, want dit sal jou help om ‘n sterker en meer selfversekerde persoon te word.

Marcel Badenhorst

Laat gaan alles wat nie ewigheidswaarde het nie. En... Jy is defnitief nie vet nie, geniet klerekoop terwyl jy dun en min is

Sumari Prinsloo

Die lewe is nie ‘n gegiete vorm wat jy bestel soos jy hom wil hê nie - hy loop sy eie draaie. Waardeer die klein goedjies in die lewe en lag baie meer.

Yolanda Nel

Die wêreld is nie teen jou...Leef elke dag voluit, jou oog gevestig op jou Hemelse Vader! So bepaal jy jou eie sielsvrede.

Nikke Basson

Nou is ‘n goeie tyd om aan jou besigheid te begin werk en ‘n skaaphond te kry! Waardeer al die skoolvakansies, want mens kry nie gou weer net soveel sorgelose afdae nie!

Elmarie van Dalen

Hierdie wêreld om my is ‘n uitdaging, ek het keuses om te maak en net myself verantwoordelik te hou daarvoor.

Estelle Naude

Jy is nie vet nie, regtig... Wees gawer met gestremde mense. Sing ou Stella, sing!!!

Helen Nieuwoudt

Geluk is nie aardse goed of mense nie. Geluk lê binne jouself. Moenie jouself verloor deur te wil inpas in die wêreld nie. Ons is gemaak om uit te staan.

Lilize J van Rensburg

VIR MYSELF sou ek maan om nie aan die wêreld gelykvormig te wees nie maar om my eie hart, denke en drome te volg. Ek sou myself waarsku om my hart ten alle koste te bewaar!. Die pad van die lewe is harde werk maar vol genietinge, laat jouself bedwelm met ware liefde en vriendskappe wanneer dit jou omhels! Behou 24/7 die ontsag vir ons Vader. Wees lief vir jou ouers, gesin en mense na aan jou hart, onvoorwaardelik! Vermy onverstandiges, geldgieriges, geslepenes en ongelowiges. En ou mans, want hul het ‘maniertjies’.

TAGS:

Duitse LP se eerste besoek aan SA lei hom na die Voortrekkermonument

Die Duitse parlementslid, Nils Schmid, het vandeesweek vir die eerste keer voet aan wal gesit in Suid-Afrika en sy eerste besienswaardigheid wat hy graag wou besoek, was die ikoniese baken van hoop – die Voortrekkermonument (VTM).
Schmid is vergesel deur Nicole Harms, kultuurbeampte van die Duitse Ambassade aan Suid-Afrika, en Franziska Kock, die beleidsadviseur, tydens sy besoek vandag (6 Augustus).
Harms sê dit was baie interessant om die VTM te kon besoek en hier te sien hoe kultuur ontwikkel het.
“Dit is werklik ’n belewenis om hier te wees en die verhaal van die Voortrekkers te kan hoor – van hoe hulle getrek het en opgebou het tot vandag,” sê Harms.
Kock, ’n LP van die Duitse Sosiale Demokratiese Party, sê hy was verstom oor die grootsheid van die Voortrekkermonument én inspireer deur die diverse geskiedenis van Suid-Afrika.
“Mens besef nie altyd hoe groot Suid-Afrika werklik is nie en hier by die monument het die storie van die Suid-Afrikaanse kultuur net meer lewe gekry.”
“Dit was werklik interessant om hier meer te kon leer oor die geskiedenis van die land,” sê Schmid.
Christiaan Jordaan, toerismebestuurder by die VTM, sê dié besoek herbevestig dat die Voortrekkermonument werklik ’n wêreldklasmonument is en een van die bestes in die land.
“Oor die afgelope paar jaar is ons geseënd om te sien hoe internasionale toeriste terugkeer na die VTM en dit is vir ons veral verblydend om te sien hoeveel hooggeplaaste afvaardigings uit ander lande hiér kom besoek aflê. Bykans 22 000 internasionale besoekers het tussen Januarie en Julie vanjaar besoek kom aflê by die Voortrekkermonument. Dit is ’n bewys waarom die monument, selfs op internasionale vlak gesien word as een van die toonaangewende toeristebestemmings in die land,” sê Jordaan.
Koch het op haar beurt afgesluit en haar dank uitgespreek oor hoe gasvry hulle by die monument ontvang is.

Nicole Harms, Nils Schmid en Franziska Koch was baie inspireer deur hul toer deur die monument
Nicole Harms, Nils Schmid en Franziska Koch was baie inspireer deur hul toer deur die monument
Nils Schmid en Christiaan Jordaan
Nils Schmid en Christiaan Jordaan
Schmid, Kock en Jordaan verken Pretoria vanaf die monument se stoepe
Schmid, Kock en Jordaan verken Pretoria vanaf die monument se stoepe
TAGS: