’n VellieVoeteFees ten bate van gestremdes

Die Forum vir Gestremdes druk sommer gou hulle stempel op die gemeenskap af deur ‘n eerste Vellievoetefees op 3 Mei aan te bied.

Die doel van die forum is om ʼn platform te skep waar die gemeenskap van persone wat met gestremdhede leef en hulle families, sinvol met mekaar kan skakel. “Ons wil mekaar leer ken en oor ons unieke behoeftes en uitdagings gesels om saam aan oplossings te werk,” vertel Renska Deetlefs, voorsitter van die forum.

Meer oor die VellieVoeteFees:

Plakkers word teen Φ10 elk te koop aangebied. Elkeen word versoek om ‘n plakker te koop wat op Vrydag, 3 Mei 2024 met die VellieVoeteFees gedra word, wat dan toestemming verskaf aan die persoon om onpaar sokkies (enige soort of kleur) met tekkies, skoene of vellies te dra. Indien kaalvoet verkies word, hul voete sommer te versier met kleurvolle blommetjies, lint of veters.

‘n Foto-kompetisie word geloods vir die beste foto wat ingestuur word deur middel van “Whats App” nommer 083 3050 181 (slegs vir Foto-kompetisie) met naam van persoon, of groep en kontaknommer. Deur u foto/s deur te stuur aanvaar ons dat u toestemming gee vir die plasing daarvan op sosiale media. Die wenner sal op 10 Mei aangekondig word. Pryse kan gewen word!

DIE HOOGTEPUNT is ‘n Pretstap/-optog wat om 15:00 vanaf die Klein Geluk/CVO skool se sirkel afskop en daar sal tot by die Volkskool gestap word.

Vir enige navrae of verdere inligting kan Renska by 083 557 2236 of vvf@gestremdes-orania.co.za gekontak word.

TAGS:

Die Aandmark by die Kuierstoep maak aandete

Op Vrydag 3 Mei word daar weer Aandmark by die Kuierstoep, voor die biblioteek in Kleingeluk, gehou. Daar heers ‘n behoorlike kuieratmosfeer met genoeg koskeuses om aan te smul. Is jy ‘n liefhebber van pannekoek, oliewiele, roomys, sop en broodjies, boereworsrolle, boepensbroodjies of iets te drinke?

Jy gaan dit by die Aandmark kry. Ander stalletjies waar jy kan drentel sal dekor, gereedskap, wintersklere, sepies, neute en droëvrugte insluit.

Diégene wat kompeterend wil wees kan hul skaakskuif kom maak en die ander spelers uitdaag tot skaakmat ‘n volgende spel laat begin.

Kontak vir Anél Meiri by 074 155 7770 vir meer besonderhede en om jou stalletjie vanaf slegs R50 te bespreek. Laat die kok in die huis ‘n blaaskans neem en kry jou en jou gesin se aandete by die aandmark!

Hier is ‘n paar kiekies wat gedurende Maartmaand se mark geneem is.
Foto’s: Verskaf

TAGS:

Vonkie die Donkie

Vonki is ‘n miniatuur troeteldonkie wat nie heeltemal so klein soos miniatuur perde is nie. Volgens sy eienaar, Spagie de Klerk, word hulle ongeveer 1m hoog. Hy vertel dat die ras oorspronklik van Italië afkomstig is waar hulle glo in die myne se tonnels gebruik is om steenkool of erts uit te dra. Vonki se pa, Kiri, en ma, Tivoli, kom van Potchefstroom af en is nou al amper twee jaar in Orania by die Boskamp woonagtig. Vonki was op 19April een maand oud. Die donkies word slegs as troeteldiere geteel. “Hulle is seker sterk genoeg om ‘n klein donkiekar te trek, maar ons gebruik hulle net om mee te teel, want miniatuur donkies is nogal duur,” deel Spagie. Hy noem dat hulle baie liefdevol en mak is, maar seer kan byt en skop, en daarom vereis dit dat ‘n mens maar altyd mooi met hulle werk.

Vonkie die Donkie
TAGS:

Emile wil nuwe tegnieke bevorder

Dia van Staden – Redakteur

Die 22 jarige man was 13 jaar oud toe hulle na Orania getrek het. Hy het pas sy Baccalaureusgraad in Argitektuur verwerf en sien daarna uit om ten minste vir ‘n paar maande in Orania te werk.

Emile Janse van Rensburg se hart trek na ‘n unieke bou- en ontwerpstyl wat Biomimicry and Green Building genoem word. Dit is ‘n ontwerpstyl wat deur die natuur geinspireer word. Volgens hom hou hy van die feit dat die boustyl kosteeffektief is, en dat daar sterker, ligter en minder arbeid daarvoor gebruik hoef te word. Die veelsydige aanwending daarvan in enige modern of selfs Romeinse boustyl beindruk dié jong argitek.

Nadat Emile in 2019 gematrikuleer het, het hy in 2020 sy studies in Hoër Sertifikaat vir Sportwetenskap en Opvoeding (HCSSE) aan die Universitiet van Pretoria begin. Die grendelstaat het toegeslaan en hy was gedwing om huis toe te kom. Hier het hy die geleentheid gekry om by die plaaslike hospitaal sy praktiese ure, wat in lyn met my studies was, te doen. Dit wou voorkom asof sy mediese droom daarmee heen was omdat hy nie aanvanklik daarvoor keuring gekry het nie.

In die middel van 2020 het hy by die Universiteit van die Vrystaat aansoek gedoen om argitektuur te studeer, want ‘n vriendin het hom met feite oortuig van die waarde van die beroep. Sy liefde vir bou en ontwerp het as klein seuntjie begin waar hy toegelaat is om te ontdek terwyl hy speel. Hy was eers in HTS John Voster waar hy blootgestel is aan Tegniese Tekeninge. Hy het nie so waffers daarin gevaar nie, maar het dit geniet.

In 2015 het hul gesin na Orania verhuis en het hy sy Graad 9 by die CVO-skool begin. Die aanpassing was nogal groot van die groot skool na Kleiner klasse met meer individuele aandag. Hy het egter gou die vrugte van die Kleiner klasse en meer individuele aandag begin pluk. Sy IGO (Ingenieurs en Grafiese Ontwerp) onderwyser het sy entoesiasme gemerk en ‘n groter kennisraamwerk beskikbaar gestel.

Emile het reeds vroeër jare by Christiaan van Zyl aangeklop vir advies ten opsigte van die begin van sy Argitektuurstudies. Christiaan se woorde was dat daar nie ‘n reg of verkeerd is nie, maar eerder grys. Daarmee het ek verstaan dat almal anders dink. Dit kon ek ten volle verstaan en in my eie lewe sien. Daarom, ten spyte van die feit dat sy lektore nie altyd mal was oor sy projekte nie, was die terugvoer van sy medestudente en nagraadse studente positief.

Hy vertel: “Argitektuur is baie omvattend en sluit vele kategorieë soos fotografie, modelbou, sketse, plakkaatontwerp, boumetodes en persoonlike ondekking in.” Hy verwys trots na ‘n paar projekte wat hy gedurende sy studies voltooi het wat vir hom hoogtepunte was.

Hy moes ‘n Hadeda-woning in sy eerstejaar ontwerp. Die vryheid van ontwerp het hom toegelaat om sy gedagtes vrye teuels te gee.

Hadeda-woning

In sy tweedejaar moes die studente ‘n kliniek uit skeepvraghouers ontwerp waar hy nog sy finale planne met die hand geskets het. “Tydens die voorlegging van my projek het my lektore dit as ‘n voorbeeld gebruik vir wat hulle verwag vir die res van die jaar. Om erkennig te ontvang vir kreatiwiteit en harde werk is iets onbeskryflik.”

Nog ‘n hoogtepunt was die uitdaging wat hulle gegee is om in die middestad van Bloemfontein, met geboue omring, Dit is hier waar hy biomimicry ontdek het. Hy het sy eie grense geskuif en met ‘n unieke ontwerp nav ore gekom wat teen alle norme indruis. Hiermee het hy geleer dat mense se smake en perspektiewe verskil.

Dié man skuif graag grense maar terwyl die ontwerp van geboue steeds uitdagend is, wil hy die ontwerp van produkte soos windturbines ook ‘n kans gee. Hy voel dat ontwerp se krag in baie meer as net geboue lê. Hy noem sommer gou ‘n paar opsies soos die ontwerp van produkte, bemarkingsmateriaal, die kunste en nog vele meer.

Orania is vir hom meer van ‘n tuiste as wat hy voorheen in die stad beleef het. Hy beaam dat niemand ‘n prys kan heg aan die veiligheid en vryheid wat ‘n Oraniër ervaar nie. Hier is menslikheid te vinde, en dis daarom dat hy Orania sy tuiste noem. Hy sal graag eendag sy kinders in Orania wil grootmaak met die wete dat hulle veilig en vry kan wees.

Sy toekomsplanne in Orania is om te verseker dat die idee van Orania voortleef. Emile wil ‘n bydrae maak om te verseker dat die Afrikaner se nageslagte veilig kan wees en in ‘n omgewing kan woon waar hul aan Afrikanerwaardes en kultuur blootgestel word.
Wanneer hy wil dink gaan ry hy fiets. Dit is wanneer hy probleme oplos en hy geniet dit om liggaamlik en geestelik gesond te wees. Hy probeer om ‘n oormaat suiker uit sy dieet te hou en verkies dan om tee te drink. Hoender is ‘n lekkerte op sy bord, maar braaityd kan ‘n biefstuk maar nader staan. Emile geniet enige musiek wat ‘n tempo van 130 tot 160 slae per minuut het, want dit help om die intensiteit van sy fietsry hoog te hou. Wanneer hy in ‘n rustige bui is verkies hy die musiek van Hans Zimmer.

Wanneer die geleentheid hom voordoen is tyd saam met vriende in enige vorm welkom. Om tyd te maak vir die mense wat jou ondersteun en bystaan is vir hom belangrik. Hy geniet ‘n rustige dag by rivier waar hy kan roei of net die natuurskoon kan waardeer.
Hy skep asem voordat hy raad wil gee aan toekomstige studente. “Moenie onsekerheid vrees nie. Die illusie van een pad kies, en dit is al wat jy vir die res van jou lewe gaan doen is nie die realiteit nie. Mens moet ‘n pad kies wat jou in staat stel om te groei en uiteindelik ‘n sukses daarvan te maak. Mens se keuse moet jou die dryfkrag gee om jou doelwitte te bereik,” spreek hy met wysheid.

Tot wanneer Emile eendag sy Land Rover ry, die prys van petrol en diesel ter syde gestel, sal hy met sy moderne meubels ‘n ordelike ruimte skep waar hy sy rekenaarspeletjies met ‘n wye aanlynvriendekring kan deel.

TAGS:

‘n Speletjiesaand met klomp kinkels!

Raar maar waar

Die energie loop hoog en die skaterlag word afgestof vir die derde Raar maar Waar pretaand wat op Saterdag 25 Mei om 18:30 in die Orania Gemeenskapsaal aangebied word. Daar word vanjaar tussen ‘n mansspan en ‘n vrouespan gekompeteer.

Die speletjies sorg vir ‘n onvoorspelbare program wat spanlede, persoonlikhede en gaste op die punt van hulle stoele hou. Dia van Staden is die aanbieder van die program en James Kemp tree as die regter op om seker te maak dat alles vry en vrolik vloei…

Die twee spanne word vanjaar deur Afsaal eiendomme en Koerania geborg. Die Forum vir Gestremdes gaan baat by die fondse wat ingesamel word. ‘n Splinternuwe Musiekfabriek gaan opslae maak, want daar is ‘n hele klomp kinkels in die note wat hulle bring! Christelle de Villiers en ds Ruan Combrink swyg oor die verskeidenheid liedjies wat hulle gaan opdis.

Die persoonlikhede word vanjaar ook in mans en vroue verdeel. Marli Snyman en Hester Botha, wenners van die afgelope twee jaar se Raar maar Waar kan nie wag om hulle deel in die gehoor te doen nie, aangesien die gehoor met die meerderheid speletjies saam moet sing, raai of vertel.

Die sombomme van OSK staan gereed om die puntetelling by te hou en die geld te tel wat mildelik geskenk word. James, die regter, hou ‘n vinnige veiling aan die einde van die aand, want hy wil mos nie bloed uit ‘n klip tap nie?

Teen slegs R1 200-00 per tafel vir tien persone word ‘n rekordgetal mense vanjaar verwag. Elke tafel bring hul eie piekniekmandjies met kos en te drinke en is seker van ‘n aand vol plesier!

Kaartjies sluit deelname aan die speletjies vir die gehoor in en lawwe pryse kan gewen word! Kontak die Okkasie Hasie by 083 726 1180 om seker te maak dat jy dié jaarlikse lekkerte nie misloop nie.

Die een helfte van die gehoor moes uithaal en wys met sang en bewegings.
‘n Terugblik op 2023… Die een helfte van die gehoor moes uithaal en wys met sang en bewegings.
Wayne Mcdermitt, Christelle de Villiers en Leon Strauss was flinke teenstanders in 2023.
‘n Terugblik op 2023… Wayne Mcdermitt, Christelle de Villiers en Leon Strauss was flinke teenstanders in 2023.
TAGS:

Melk en Heuning se nuwe milieu

Melk en Heuning se nuwe milieu en uitgebreide spyskaart lok hul ou en nuwe kliënte nader

TAGS:

Cherise Barnard – Fotograaf

Cherise Barnard is ‘n 20 jarige meisiekind wat kleintyd al die voorliefde ontwikkel het om met haar vingers oor die knoppies van ‘n kamera te speel. Sy is egter ‘n jongmens met haar voete vierkantig op die aarde geplant.

Sy het in 2023 haar Hoër sertifikaat in fotografie aan die Potchefstroom Akademie verdien. Potchefstroom was vir haar ‘n heerlike studenteplek, maar sy het veral genot daaruit geput omdat sy ‘n wye spektrum werksgeleenthede, wat fotografie aanbetref, daar kon kry. “Ek het soveel kreatiewe mense ontmoet met wie ek gewerk het,” noem Cherise.

Dié slimkop wou oorspronklik mikrobiologie studeer, maar het besluit om eers haar liefde vir die kamera en foto’s neem as ‘n beroepsopsie op die proef te stel. Sy het, soos meeste mense, met haar foon foto’s begin neem voordat sy met ‘n kamera begin eksperimenteer het. “Mikrobiologie gaan nie weghardloop nie en ek kan dit dalk later studeer, maar ek kyk nie tans terug nie!”

Cherise is in Kempton Park gebore en sou nooit kon voorspel dat sy ‘n eie besigheid in fotografie en videografie met ‘n tikkie grafiese ontwerp daarby in Orania sou begin nie. Haar studies was ‘n avontuur waar sy baie ondervinding opgedoen het terwyl hul as studente met professionele toerusting kon leer en werk. Die blootstelling aan moontlikhede in die beroep en om programme te leer ken wat jy kan aanwend om redigering te verbeter het haar gefassineer.

Volgens haar is ‘n foto ‘n geskenk vol kosbare oomblikke en die geleenthede wat elke foto jou bied om kreatief daarmee te werk is legio. Sy swiep haar lang hare oor haar skouer terwyl sy vertel dat sy nooit gedink het dat sy dit so sou geniet om troues se foto’s te neem nie. “Die wonderlike ding van mense is dat hulle behoeftes altyd verskil en dit sorg vir opwinding en afwisseling in die prosesse van fotografie en videografie,” beduie sy.

Sy is nie bekommerd dat kunsmatige intelligensie die rol van ‘n fotograaf sal vervang nie. Sy is optimisties wanneer sy noem dat ‘n hoë werksetiek en standaard van werk van kardinale belang bly. “Dit is uitdagend om kunsmatige intelligensie met jou werk te integreer, maar van die elemente kan jou werk se kwaliteit en variasie geweldig uitlig,” vertel Cherise.

Wanneer dit by die uitdruk van foto’s kom is sy beslis selektief. Sy erken dat dit lekker is om na fisiese foto’s te kyk en daaraan te vat, en dat gunstelinge en voorkeure fotografie as ‘n kunsvorm beklemtoon.

Die belangrikheid om digitale foto’s te bewaar verstaan sy, want dit is op verskeie sosiale media platforms waar internasionale blootstelling kan plaasvind. Dié jong fotograaf geniet ‘n fotosessie waar ‘n indrukwekkende tema met ‘n verskeidenheid klere en karakters uitgelig kan word. Die neem van meer formele foto’s soos vir troues en matriekafskeide wen met ‘n kortkop.
Sy kies met moeite tussen kleur of swart en wit fotografie. Swart en wit foto’s voel vir haar tydloop en maak vir haar ‘n lieflike visuele impak.

Afhangende van die gevoel wat jy met ‘n foto wil skep werk die natuur altyd tot ‘n fotograaf se voordeel. “‘n Moderne of outydse gebou kan ‘n unieke storie vertel en ‘n foto totaal herskep.”

Aangesien sy die redigeringsproses geniet is ‘n kunsfoto wat vreeslike redigering vereis nog ‘n gunsteling. Sy is wel duidelik toe sy verduidelik dat sy volwasse modelle verkies omdat hulle verstaan wat van hulle verwag word. In ‘n studio kan sy die lig bestuur, maar die uitdaging van buitelug fotografie hou dit interessant.

Sy drink graag eerder ‘n cuppachino terwyl sy redigering doen en plat skoene met ‘n langbroek bly maar ‘n praktiese keuse vir die op-en-af van haar werk. Dié meisie het ‘n oog vir ‘n ideale fotohoek en vergryp haarself maklik aan Youtube videos wat filmtemas bevat. “Ek het nie tyd vir fliek nie. Ek wil iets leer as ek tyd neem om daarna te kyk,” sê sy prontuit.

Vir nou sluit sy die behoefte aan muisneste uit want sy fokus daarop om ‘n besigheid te bou. Haar vriende raak nou op ‘n streep verloof en sy sien daarna uit om hulle foto’s te neem, maar stel nie self nou in die liefde belang nie. “Alles in goeie tyd.”

Haar mikpunt binne die volgende vyf jaar is om ‘n studiospasie te laat bou waar sy klas kan gee in fotografie en videografie. Sy wil graag haar eie kurrikulum opbou sodat sy vir aspirant fotograwe, selfs baie jong kinders, ‘n mentor kan wees.

Cherise se boodskap aan jongmense: “Dink mooi wat jy met jou tyd wil doen. Studeer iets wat ‘n ingeligte keuse is en wat jou passie is. Niemand van ons moet ‘n keuse namens iemand anders maak nie, maar jou sukses sal kom met ‘n persoonlike keuse.”

Sy neem geestelike gesondheid ernstig op en wil ander aanmoedig om hulself soms met tyd te bederf. “Ek wil dinge doen wat energie in my terugpomp. Ek eis die tyd vir myself. Almal is dit aan hulself verskuldig.”

Kontak Cherise by 076 727 0088 om meer te wete te kom oor die passievolle fotograaf wat jou belange altyd eerste sal stel.

TAGS:

BKO vertel stoepstories

Die BKO-studente het hul talente vir die gemeenskap gewys tydens hul eerste Stoepstories- en Talentaand. Dit is baie voordelig vir ‘n gemeenskap om sy jongmense te omarm en hulle ‘n stem te gee.

TAGS:

BKO word ‘n landboukenner ryker

Carla Loots – BKO

Jasper Dreyer het onlangs by Bo-Karoo Opleiding (BKO) in Orania as Departementshoof: Landbou, aangesluit.

Jasper het vir 15 jaar in Potchefstroom gewoon, waar hy 12 jaar lank ’n dosent in grondkunde was. Hy is tans besig met sy PhD-graad in digitale grondkartering vir presisieboerdery aan die Noordwes-Universiteit. Hy wil graag sy kennis en ervaring gebruik om die landboukurrikulum uit te brei en meer gespesialiseerd te maak.

Hy beplan dat die Leer-my-hoe-proefplaas optimaal gebruik moet word, tot voordeel van landbou in Suid-Afrika en veral die Noord-Kaap. Sy droom vir BKO is dat die instelling nie net in getalle sal groei nie, maar ook as top hoëropleidingsinstelling erken sal word.

“Ons het groot planne vir landbou by BKO,” sê hy. “Eerstens wil ons die departement se kapasiteit uitbrei en verder ontwikkel om volhoubare groei en gehalte te bevorder. Tweedens beplan ons die uitbreiding van die Leer-my-hoe-proefplaas om studente aan praktiese landbouaktiwiteite binne ons streek bloot te stel. Ons beoog om ondersoek in te stel na vakrigtings soos agronomie en veekunde en daardeur ons eie kurrikulums en modules te ontwikkel,” brei Dreyer uit.

Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO, is baie opgewonde om Dreyer se bydrae te beleef. “BKO het ‘n sterk fokus op landbouopleiding en ons wil dit verder uitbou. Jasper se aanstelling bring vir ons baie kundigheid en vaardighede wat ons uitbreidingsplanne uitstekend aanvul.”

TAGS:

OOM kry ‘n kantoor in Pretoria

Die Orania Ontwikkelingsmaatskappy spog met `n kantoor in Pretoria. Dié kantoor sal voornemende sakemanne en beleggers wat ’n behoefte het om hul belange in Orania uit te brei help om maklik en vinnig by die regte persone of instellings uit te kom.

Die besluit het gespruit uit ’n toenemende belangstelling in Orania onder Afrikaners, wat ’n gerieflike en sentrale kontakpunt nodig het om hulle reis na hierdie eiesoortige gemeenskap in die Bo-Karoo te fasiliteer.

Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, het tydens die bekendstellingsfunksie wat op 19 Maart by Sol-Tech-kampus gehou is, gesê: “Daar is `n groot aantal mense in Pretoria en omliggende gebiede wat graag in Orania wil belê en die kantoor sal verseker dat hulle moeiteloos toegang tot die nodige inligting sal kry om so `n belegging moontlik te maak.”

Diegene wat van voorneme is om in Orania te vestig sal deur die kantoor bygestaan kan word.

Flip Buys, die voorsitter van die Solidariteit Beweging het tydens die geleentheid gesê dat Orania Ontwikkelingsmaatskappy ten doel het om Orania te help om infrastruktuur te ontwikkel, bottelnekke wat groei kniehalter uit die weg te ruim en opleidingsinstellings te ontwikkel.

Ander sprekers wat deelgeneem het aan die bekendstellingsgeleentheid is Kallie Kriel, uitvoerende hoof van Afriforum en Appie Pienaar, finansiële hoof van Solidariteit.
Die kantoor sal deur Du Preez De Villiers beman word.

Skakel Du Preez de Villiers by 082 598 7329 of stuur ’n e-pos na dupreez@ontwikkelorania.co.za vir meer inligting.

Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy.
Frans de Klerk, uitvoerende hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy.
Dupreez de Villiers beman die Orania Ontwikkelingsmaatkskappy se kantoor in Pretoria.
Dupreez de Villiers beman die Orania Ontwikkelingsmaatkskappy se kantoor in Pretoria.
TAGS: