Koerania

Carla Loots – BKO

Jasper Dreyer het onlangs by Bo-Karoo Opleiding (BKO) in Orania as Departementshoof: Landbou, aangesluit.

Jasper het vir 15 jaar in Potchefstroom gewoon, waar hy 12 jaar lank ’n dosent in grondkunde was. Hy is tans besig met sy PhD-graad in digitale grondkartering vir presisieboerdery aan die Noordwes-Universiteit. Hy wil graag sy kennis en ervaring gebruik om die landboukurrikulum uit te brei en meer gespesialiseerd te maak.

Hy beplan dat die Leer-my-hoe-proefplaas optimaal gebruik moet word, tot voordeel van landbou in Suid-Afrika en veral die Noord-Kaap. Sy droom vir BKO is dat die instelling nie net in getalle sal groei nie, maar ook as top hoëropleidingsinstelling erken sal word.

“Ons het groot planne vir landbou by BKO,” sê hy. “Eerstens wil ons die departement se kapasiteit uitbrei en verder ontwikkel om volhoubare groei en gehalte te bevorder. Tweedens beplan ons die uitbreiding van die Leer-my-hoe-proefplaas om studente aan praktiese landbouaktiwiteite binne ons streek bloot te stel. Ons beoog om ondersoek in te stel na vakrigtings soos agronomie en veekunde en daardeur ons eie kurrikulums en modules te ontwikkel,” brei Dreyer uit.

Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO, is baie opgewonde om Dreyer se bydrae te beleef. “BKO het ‘n sterk fokus op landbouopleiding en ons wil dit verder uitbou. Jasper se aanstelling bring vir ons baie kundigheid en vaardighede wat ons uitbreidingsplanne uitstekend aanvul.”

Post Views: 103