Bo-Karoo Opleiding (BKO) se personeel en leierskap bedink voortdurend innoverende idees wat tot die voordeel van hul studente se praktiese opleiding kan lei.
Tydens ‘n inligtingsaand op Woensdag 2 Oktober, is die geleenthede vir voornemende mentors, wat reeds in die industrieë van loodgieter, elektries of konstruksie staan, om van studente in hul werkplekke gebruik te maak, uitgelig.
Paul Vogel, uitvoerende hoof van BKO, het verduidelik dat die behoefte aan arbeid in Orania vergemaklik kan word deur studente aan te wend wat reeds in ‘n spesifieke rigting studeer, om daardie arbeid te verrig, en in ruil daarvoor word die student met die noodsaaklike vaardighede toegerus wat aan bedryfsvereistes voldoen.
Johan Klinck, BKO se hoof van ambagte het dit so aan mentors gestel: “Help ons om vaardighede te versterk deur jou werksplek vir ons opkomende ambagslui oop te maak.”
Johan het bygevoeg dat BKO fokus op gestruktureerde opleiding dit vir werkgewers maklik maak om hul studente te plaas, en dat die mentorstelsel sal verseker dat vakleerlinge onder die beste omstandighede kan leer en ondervinding opdoen. Hy het bygevoeg dat die beroepssertifikaat gebaseer is op vaardigheid en voldoening aan bevoegdhede, en nie op ‘n tydperk waarbinne sukses bereik moet word nie.
BKO bied verskeie beroepskwalifikasies aan, insluitend Elektrisiën, Loodgieter en Messelaar, elk met NKR-vlak 4 sertifikate. Hierdie programme stel studente in staat om hulle loopbane in verskeie sektore verder uit te bou.
Die voordele van die beroepskwalifikasie is as volg beskryf:
• Goed gevormde vakleerlinge met nodige kennis en vaardighede vir die werkgewers.
• Werkgewer is nie gebind met ‘n drie-jaar vakleerlingskap kontrak nie.
• Werkgewers het vakleerlinge vir 18 maande aaneenlopend.
• Meer gestruktureerd en gestandaardiseer.
• Kwalifikasies is op gelyke voet met internasionale vereistes, kwalifikasies en neigings.
Die voornemende mentor se werkplek sal aan sekere vereistes moet voldoen om die kwaliteit van die opleiding en werkservaring vir die student te verhoog. Daardie spesifikasies vir die goedkeuring van die werkplek sluit sleutelaspekte in soos voldoening aan opleidingstandaarde, ‘n gekwalifiseerde ambagsman wat die mentorskap verskaf, die werksplek se infrastruktuur en beskikbare hulpbronne, voldoening aan gesondheid- en veiligheidstandaarde (OHSA), die teken van vakleerlingskapooreenkomste en voldoening aan wetlike statutêre vereistes. Die betrokke SETAs sal self die werkplek-evaluering hanteer. BKO beoog om mentors by te staan in die proses om hul werkplekgoedkeuring te bekom.
Sodra die span van die SETA die werkplek van ‘n mentor goedkeur sal die SETA ’n Werkplekgoedkeuringsdokument uitreik wat kwalifikasies en die aanbevole hoeveelheid vakleerlinge bepaal. Monitering sal gereeld gedoen word om te verseker dat daar aan die nodige uitkomste aandag geskenk word.
Sanri Stone, Netwerk Koördineerder vir Solidari-teit, het die noodsaaklikheid van veiligheid, gesondheid en welsyn in die werkplek en op ‘n bouperseel bespreek. Die risikobestuur van die onderskeie verantwoordelikhede is beklemtoon. “’n Gesonde en veilige werkskultuur vir Orania en sy werksmag is ‘n kern prioriteit,” het sy genoem.
Anita Schutte, SAIPA Geregistreerde Reken-meester, het die mentors onder andere daaraan herinner dat die werkloosheidsversekeringsfonds, werknemersbelasting, vaardigheidsontwik-kelingsheffing, beurse en leerlingooreen-komstoelaes noodsaaklike statutêre vereistes is.
Paul som die aanbod as volg op: “Die beroepskwalifikasie model wat BKO aanbied, kombineer 18 maande teoretiese en praktiese opleiding by BKO, gevolg deur 18 maande praktiese werk onder die toesig van ‘n gekwalifiseerde mentor in ‘n goedgekeurde werkplek. Dit verseker dat studente nie net vaardighede bemeester nie, maar ook gereed is vir die moderne mark.”
Die implementering van dié innoverende beroepskwalifikasiemodel vir studies met 2025 innames, sal die tradisionele vakleerlingskap vervang.