Bo-Karoo Opleiding het vandeesmaand hulle vyfde verjaarsdag gevier vandat voltydse klasse op kampus aangebied word.
In 2019 begin BKO met hul eerste 5 voltydse studente. Op 2 Mei 2024 klink BKO ’n glasie op die sukses behaal. Dit sluit groei na 122 studente en uitbreiding van nuwe fasiliteite in. Die instansie het die dag met kolwyntjies, goeie gees en pizza gevier voordat ’n glasie op die Tegniese kampus se stoep geklink is.
Die opleidingsinstansie groei oor die jare deur verskeie kursusse by te voeg, nuwe personeel te verwelkom en telkens word net nog meer studente opgelei. Vanjaar is 21 personeellede en 122 studente deel van die BKO span. Vir elke lektor en personeellid is dit ’n voorreg om aan studente se toekoms te bou. “Om te sien hoe studente hul potensiaal ontdek en ontwikkel en om as ’n afgeronde volwassene die wêreld van werk te betree, is ’n voorreg,” sê Marike Labuschagne, Hoof van Studentesake.
“Ons is positief en hoopvol oor die toekoms. Hier by BKO skep ons ’n geleentheid vir studente om in vryheid te leef en ten volle student te wees,” sê Paul Vogel, die Uitvoerende Hoof. “Ons klink ’n glasie en kyk dankbaar terug na wat bereik is en gaan hoopvol die toekoms binne.”
BKO het aanvanklik begin met bou- en siviele konstruksie.
Later het die opleidingsinstelling begin groei en meer kursusse is bygevoeg. Die nuutste daarvan is Landbou wat in 2023 bekendgestel is. By BKO kan studente oplei word in boerderybestuur, bou- en siviele konstruksie, loodgieter, elektries asook tuisversorgingsopleiding.
“Alhoewel opleiding uitdagend kan wees, is dit ’n baie stimulerende werk wat jou hart bevredig,” sê Almarie Kruger, die lektor van tuisversorging.
BKO sien uit daarna om volgende jaar ’n rekordgetal studente te verwelkom. Op 15 Junie hou BKO hulle eerste opedag. Verdere toekomsplanne sluit nuwe koshuise, programuitbreiding en vele meer in.
“By BKO droom ons nie net van ‘n hoopvolle toekoms nie, ons bou reeds daaraan!” sê Vogel.
Besoek hul webwerf by www.bko.co.za vir meer besonderhede.