Volgens videomateriaal het Hannelie Schwartz op Donderdag 1 Augustus om 09:59 oor die N12, rigting Hopetown, gery toe die vervoertrok van Liebenlogistics haar voertuig getref het, en die voertuig ‘n paar keer getol het, voordat dit teen die metaal padreëling tot stilstand gedwing is.
Volgens Theo Erasmus, die Prinsipaal van die Eureka Nood Mediese Dienste, wat vinnig op die toneel was, het hul Hannelie op die passasiersitplek met verskeie beserings aangetref. “Die impak van die trefslag en die tol van die voertuig moes gelei het tot die verplasing,” verduidelik Theo, wat ook ‘n bekwame lewensondersteuningsparamedikus is. Hy vertel dat personeel van ‘n nabygeleë kliniek haar probeer help het.
Saam met Sivuyile Ndabetha en Tlale Ezekiel Tjamela, Eurekapersoneel, het hul haar so spoedig moontlik met die nodige stabilisering vir moontlike hoof, spinaal en borsbeserings uit die voertuig gehaal. “Sy het intensiewe sorg benodig wat ons nie langs die pad kon verskaf nie,” vertel Theo.
Ettiene de Lange, hoof van die Orania Veiligheidsdienste, vertel dat hul net na 10:00 die oproep ontvang het, waarna hy en Theuns Wessels, Weerbaarheidshoof, hul na die toneel gehaas het. Slegs die motorwrak en die Hopetown polisie was op die toneel.
Ettiene het as voorkomende maatreël die snytoerusting en ambulans laat ontplooi, maar die dienste is herroep toe dit bevestig is dat dit onnodig was.
By die Hopetown hospitaal het hul Hannelie se eggenoot, Hardus, en ‘n kollega, Janca Pieterse ontmoet. Die moontlikheid van ‘n helikoptervlug na Kimberley se Gariephospitaal is bevestig en die OVD-personeel kon hulself handig maak met die reëlings van die helikopter, ‘n landingsplek op ‘n skool se rugbyveld oorkant die hospitaal en die verskaf van landingskoördinate. Susan Coetzer, operasionele bestuurder van Eureka, het bystand verleen met die aktivering van die lugambulans.
Op Saterdag 3 Augustus het die familie steeds per Whatsapp vir hul geliefde Hannelie gebed versoek. Die neurochirurg, dr Swanepoel het hul egter ingelig dat die kopbeserings baie ernstig was, maar dat vele ander beserings ook tot haar kritieke toestand bygedra het.
Hannelie het haar laaste asem op Sondag 4 Augustus uitgeblaas en laat die Orania gemeenskap, waar sy met ywer die minder bevoorregtes met sorg gedien het, in skok.
Koerania het verneem dat Hannelie op pad was na Strydenburg om ‘n kollega met ‘n uitdagende kinderbeskermingsituasie te gaan bystaan.
Ettiene krap sy voorkop ingedagte en vertel: “Van elke situasie bly iets my by. Dit is hoekom ons bootste in die oggende aantrek, maar jy weet nie of jy dit die aand gaan kan uittrek nie.”
Die Solidariteit Helpende Hand Bo-Karoo Streek het in ‘n sosiale media plasing die volgende gesê: “Dit is met groot hartseer dat ons afskeid neem van Hannelie Schwartz. Sy het diep spore getrap in die harte van Oraniërs as maatskaplike bestuurder van Orania Helpmekaar. Haar hele menswees was iemand wat lus was vir die lewe en nie toegelaat het dat alledaagse dinge haar onderkry nie. Sy was ‘n bo-baas planmaker en het haar kollegas geïnspireer om die ekstra myl te loop. Sy was altyd gereed met goeie raad en ‘n woord van bemoediging waar nodig. DANKIE dat jy jou lewe gewy het om ‘n stem te wees vir diegene wat nie vir hulleself kan praat nie, en dat jy hoop gebring het waar ellendige toestande heers. DANKIE vir jou harde werk en diens aan die gemeenskap. Jou nalatenskap is groot en jou plek hier sal altyd leeg bly.”
Hardus het sy hart uitgestort toe hy ‘n Facebookplasing gemaak het wat lui: “My Blomvrou. Jou plekkie is skielik leeg en jou stem stil. Hierdie husband van jou mis jou alreeds. Ons is stukkend. Al wat ek kan vra is, hou die hemel oop vir as ek kom. Lief jou vir ewig. Tot ons mekaar weer sien.”
Tydens haar begrafnisdiens op Saterdag 10 Augustus het ds Ronald Bain en Frans de Klerk, Uitvoerende Hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, hul respek vir Hannelie en haar werk uitgespreek. Dit is gewis dat sy gemis sal word.
Waar begin ‘n mens om ‘n huldeblyk aan só ‘n spesiale mens te skryf. Haar eerste woorde aan my toe ek haar vier jaar terug ontmoet het was “Hallo, ek is Hannelie, die maatskaplike werker en ek doen nie politiek nie”. Dis presies soos sy was – op die man af, sonder fieterjasies en met ‘n diep siel. So het ons vriendskap afgeskop – sommer so, sonder pretensie.
Hannelie is op 14 Augustus 1971 in Pretoria gebore en is Sondag, 4 Augustus 2024, na ‘n motorongeluk vroeër daardie week, oorlede. Sy het matrikuleer aan die Hoërskool Montana in 1989, en het ‘n Honneursgraad in Maatskaplike werk aan die Universiteit van Pretoria bekom. Ten tyde van haar afsterwe was sy besig met haar Meestersgraad.
Hannelie het een dogter, Juandri en het in Mei 2024 ouma geword van ‘n pragtige baba dogtertjie, haar “Bolletjie blom”.
Hannelie en Hardus is op 21 Maart 2009 getroud en sy het toe nog drie kinders by gekry. In Desember 2019 het sy en Hardus na Orania verhuis waar sy as Maatskaplike werker by Orania Helpmekaar gewerk het.
Sy het verskeie gemeenskapsprojekte geloods en was ‘n steunpilaar tydens die Covid-19 grendeltydperk. Sy is later as Bestuurder van Orania Helpmekaar aangestel. Sy het dié instelling omgeswaai in ‘n instelling wat hoop skep in ‘n gebroke wêreld. ‘n Groot mylpaal wat sy in Julie vanjaar bereik het was om Orania Helpmekaar as ‘n Kinderbeskermingseenheid te laat registreer. Dit is nie ‘n maklike taak nie en het meer as vier jaar geduur om te vermag.
Hannelie het ‘n passie vir mense gehad en het altyd uit haar pad gegaan om weerloses te beskerm en om ‘n plan te maak vir dié wat maatskaplike nood ervaar. Sy het soveel mense se lewens positief aangeraak. Sy was werklik ‘n omgee mens met ‘n hart van goud en jy kon altyd op haar staatmaak. Sy was ook ‘n groot diereliefhebber en haar honde kinders het ‘n baie groot deel van haar hart besit.
Sy het ‘n unieke sin vir humor gehad en ‘n aansteeklike lag wat almal om haar se dag opgehelder het – jy kon haar ‘n myl vêr hoor. Waar Hannelie gegaan het, het sy mense geken en mense het haar geken. Haar vriendskappe was eg en sy het moeite gedoen om met elkeen in kontak te bly, maak nie saak hoe vêr sy van hulle gewoon het nie. Familie was vir haar ‘n priotiteit en sy het ‘n hegte verhouding met elkeen gehad.
Ons gaan Hannelie mis vir haar groot persoonlikheid, omgee hart en onbaatsugtige diens aan die Orania gemeenskap. Sy laat groot spore in ons dorp en in ons harte.
Laat ons terugkyk na Hannelie se lewe en mag dit ‘n voorbeeld vir elkeen wees oor hoe om onbaatsugtig en met soveel omgee vir ander te lewe.