Koerania

Die Orania Atletiekklub het op 12 Oktober hul jaarlikse Kleinreus Halfmarathon op ‘n warm Saterdag aangebied.
Atlete van Orania, Hopetown, Kimberley, De Aar en elders in die omgewing het kom kragte meet oor die 10km en 21km afstande. Organiseerders, Christo en Karin Muller, het die roetes, waterpunte en vrywillige assistente haarfyn beplan.
Daar was ‘n paar fietsryers wat seker gemaak het dat die atlete op hul roetes bly sodat daar nie onnodige afdraaie geneem word nie. By die wegspringpunt, die Banketsaal, is vrolike musiek gespeel wat die atlete weer terug verwelkom het na hul die wedloop voltooi het.
Daar is ambulansdienste ontplooi om enige hitte-uitputting of ander mediese knelpunte te help uitsorteer. Om 07:00 het die 72 ywerige atlete in twee afsonderlike groepe, per afstand, weggespring, en Koerania se Dia van Staden het die aankondigings en onderhoude tydens die wedloop hanteer.
Eerste oor die wenstreep vir die 10km was Sydney Stevens van Hopetown Atletiekklub in ‘n tyd van 37:06, en Carmen Louw van Hoërskool Diamantveld het in ‘n tyd van 51:13 as junior die wenstreep oorgesteek. Die tydhouers moes bontstaan om seker te maak dat die korrekte tye per atleet gedokumenteer word.
In die 21km wedloop het Arthur Jantjies van Kimberley die mansafdeling met ‘n tyd van 1:18:36 gewen en Denise Thomas van Hopetown het die afstand in 1:46:17 afgehandel. Die taakspan van Orania Veiligheidsdienste het elk met ‘n 14kg rugsak die halfmarathon net so onder die 03:30 voltooi. Al die atlete is met luide applous by die eindstreep terug verwelkom.
Die datum vir die 2025 marathon is reeds vir 18 Oktober vasgestel. Die Orania Atletiekklub sien daarna uit om hulle getalle vir dié wedloop te verdubbel.

Post Views: 70