Koerania

’n Mens kon altyd ‘n plan maak as iets te swaar is om op te tel. Jy neem ‘n hefboom en rol die swaar klip. Deesdae moet ek dit skelm doen as my vrou my nie sien nie. Totdat ek ‘n stok onder die klip indruk. Hiep hiep hopla. Einaaa. As dit nie so seer was in my rug nie, het ek gelag vir myself. So, vaarwel slim planne maak met swaar goed. Ek was verbaas om te hoor my swaer – so ‘n jaar of wat ouer as ek – klim nie meer op ‘n leer nie. So, ek sal maar luister as Vroulief niks daarvan wil hoor dat ek buurman se lang leer leen en ‘n vlermuishuis hoog teen die muur opsit nie. Sy wil niks weet van sorg vir ‘n verminkte wat daar afval nie. Soveel so vir “better or worse”. Skynbaar tel dit nie as jy self die “worse” veroorsaak nie. Dis sommer swakheid en ydelheid – so sê my vrou en jy stry nie met haar nie.

Die tyd vir swaar aanpassing het gedaag. Of ek dit wil weet of nie. En daar is ander swaar hindernisse wat uit die weg moet kom.

Kyk, daar is mense in die wêreld wat my maklik met dertig jaar plus klop voor hulle afklop. Maar hulle kom nie tot daar op vet skaapvleis, lang worse en soetpampoen nie. Hulle bereik honderd jaar en meer op tuinmaak, min vleis, baie groente, gesonde stokperdjies of werk, baie rus en goeie vriende. Sjoe, navolgenswaardig, maar ‘n swaar aanpassing, wat ‘n groot hefboom en abie oortreding sal verg.

‘n Aanpassing waaroor ek ligweg mor, is die onverbiddelike aandrang op beter eet. Ek is so lief vir spesifieke trooskos. ‘n Broodjie met konfyt is onoortreflik. En verkieslik bietjie brood by my konfyt. So ‘n broodjie met ‘n donker kors. En dik botter met tuisgemaakte appelkooskonfyt. Dit neem my terug na my sorgvrye kinderdae. By die broodjie ‘n blikbeker swart moerkoffie met ‘n lepel bruinsuiker. Lekker verby. Knus verorber by die ou witgeskropte kombuistafel voor die koolstoof. My was maar te bly ek eet my brood en konfyt. Want ek was glo ‘n skraps eter as kind.

Maar iewers het my lyf besluit die effense peusel hier en peusel daar is sommer twak. Op so twaalf was daar geen teken van skraps eet in my gestel meer aanwesig nie. Met die gevolg dat ek nog altyd ‘n taamlik ronde voorkoms gehandhaaf het. By tye het die voorkoms verander onder invloed van keto en weeg-minder en so aan ensovoorts. Natuurlik was my beloning by die weeg-minder eetmanier ‘n groot toffie- en karamel sjokoladestafie. Om te vier dat ek 100g afgekom het, eet ek ‘n 125g stafie. Ai, die swakheid van die vlees tog. Na die tydelike verlies aan rondheid het die rondheid gewoonlik met wrewel teruggekeer omdat sy bestaansreg so skandelik misken is en vir so lank. Vergeefs het hy geroep en my die heerlikheid van braaivleis en braai-aartappels as hoofgereg met sjokolade-mousse as nagereg gewys. Luid die onnodige hongerpyne veroordeel. Maar vir sy moeite is hy telkens ru die mond gestop met slaai en tamatie en slaai en tamatie en slaai en wortel en ‘n minuskule stukkie vleis en soms tuna met een teelepel maer mayonnaise.

Nou staan stuur my vriend – ‘n vriendskap wat ek na dese nie meer van seker is nie – vir my sy gesondheidsboek. Ek is trots dat hy al ‘n paar boeke geskryf het. Maar regtig. Rondheid word ronduit veroordeel. My ma se trots op haar kind wat so gesond eet, was toe al die tyd ‘n konsep wat vasgeggom is in my binnekant en wat ek as volwassene nog steeds onbewustelik saamdra. Sy was op die verkeerde dinge trots. Dit het daartoe gelei dat ek my gesondheid weggeëet het. En die raad is voor die handliggend; kry klaar met die dinge van ‘n kind. Raad wat ek dalk maar moet aanstuur na my boekgeleerde kinders toe. En wat dalk ook ewe onwillig en met ‘n geskop en gespartel soos ek, ontvang sal word. Hulle is immers my kinders.

Maar vandag sit ek met lyflike probleme. Dis of die nagemaakte “brownie” wat ek by die kerk se stalletjie uit lojaliteit en belustigheid gekoop het, dik word in my maag. Nie net omdat dit dalk nie regtig ‘n brownie is na my ervaring nie, maar omdat die botter en suiker en kakao my bloedsuiker en gesondheid so negatief affekteer. Die oomblik se soet op die lippe, word eskatologies bitter in die maag. Mag ‘n kerk sulke goed met ‘n rein gewete verkoop? Hierdie swakheid sal oorkom moet word, gepraat daaroor ten spyt.

Die vroeër vermelde skrywersvriend stel in sy boek voor ek begin met ‘n 36 uur water-alleen vas. En om later allerhande vreemdklinkende aanvullings te begin neem. Gelukkig sien ek neem ek reeds uit suiwer instink van die goed wat help. Anders was ek dalk nie meer hier om oor hierdie swaar bekering te skryf nie. Eintlik nie bekering nie, heiligmaking.

Want ek koop in dat liggaam, siel en gees een is. Dat wat die een deel van my menswees raak, ook die ander dele intens affekteer. Ek is nie net die siel en die spirituele nie. Die liggaam het ‘n rol om te speel in algehele gesondheid. Dis seker waarom ‘n ander gemeenskaplike vriend al ‘n dekade of wat gelede reeds oorlede is.

Wil ek ook nou reeds heengaan? Ek woon en werk nog so lekker. Maar redes soek om nie te luister nie, om vriend se geskenkboek as asketiese stories af te maak; om soos ‘n kleuter alles mond toe te wil bring; vir elke bakatel ‘n soet of sout beloninkie te soek. Dit kry nou end. Sê ek met bewing, want hierdie is ‘n sterk ding. Met die ou vyand wat lag op die broodblik en die yskasdeur.

Ek dink ek kan vra: bid vir my.

Ds Danie Krüger

Post Views: 119