Koerania

Die stad Charlotte is in die staat, North Carolina, in die Verenigde State van Amerika geleë. Dié stad se Waxhaw voorstad gaan nooit weer dieselfde wees nie, want ‘n Oraniër het daar geland!
Annelize Bredenhann is maar 18 jaar oud en beleef tans een van die grootste avonture van haar lewe. Alhoewel sy maar skrikkerig was om die veiligheid en vrede van Orania vir die vreemde te verruil, is die ervaring oor en oor die moeite werd.
Dié jonge dame het ‘n sagte plek vir kinders en haar oorbruggingsjaar na matriek lei haar toe om aansoek te doen vir au pair-werk. Haar avontuurlustige geaardheid kry nou vlerke want sy kry die geleentheid om ‘n bietjie meer van die wêreld te sien en te ontdek.
Onsekerheid oor die beste keuse vir ‘n beroep het hierdie geleentheid aangehelp. Annelize oorweeg Kindersielkunde as ‘n rigting en daarvoor behoort die drie kleingoed wie sy oppas, wat wissel tussen 20 maande en 7 jaar, vir haar ‘n goeie leerskool te wees.
Die agentskap waardeur sy gewerk het om oorsee te kon gaan het haar in kontak gesit met ‘n potensiële familie wat spesifiek iemand uit Suid-Afrika gesoek het. Gedurende haar eerste twee weke in Amerika het sy met dié familie kontak gemaak en na onderhoude en gesprekke is dit bevind dat hul ‘n goeie kombinasie behoort te vorm.
Een van die grootste uitdagings tot dusver was om haar bestuurslisensie in North Carolina te kry en daarom kan sy nou die kinders rondry, waar nodig. Sy vertel van die vreemdheid daarvan om self brandstof in ‘n voertuig te gooi.
Haar werkskontrak is vir ‘n jaar geldig, maar sy praat reeds daarvan dat sy haar verblyf met ‘n bykomende jaar sou wou verleng. Die dae is gevul met die opruim van die huis, kosmaak vir die kinders en hul chauffeur wees waar nodig. Annelize gaan dus oral saam met die gesin om die versorging van die kinders te hanteer.
Sy sien selfs kans om na ‘n jaar by ‘n nuwe gesin aan te sluit. “Ek sou graag in die VSA wou studeer as dit moontlik sou wees,” vertel sy opgewonde.
Daar is beslis goed wat sy van die huis mis. “Ek mis die mense en die kos die meeste ,” vertel sy. Annelize is egter van voorneme om die beste van haar avontuur in die VSA te maak.
Naby die grens van Noord en Suid Carolina woeker daar ‘n jongmens wat die hoop uitspreek dat sy as ‘n jong meisie met werkbare ondervinding en sakke vol stories sal kan terugkeer na haar geboorteland.

Inligting oor die stad Charlotte:
Charlotte het na die Amerikaanse Burgeroorlog, ongeveer 1865, begin ontwikkel. Eers as ‘n spoorwegaansluiting en toe as ‘n katoenmeule. Tans is Charlotte een van Amerika se grootste banksentrums en een van die land se vinnigste groeiende metro-areas.

Annelize Bredenhann staan hier in die kombuis van haar au pair-gesin in die VSA.
Annelize Bredenhann staan hier in die kombuis van haar au pair-gesin in die VSA.
Post Views: 74