Koerania

Almarie Kruger (60) is in Oktober 2023 tydens ‘n roetine-ondersoek met Fase 1 borskanker gediagnoseer. Die standaard proses van ‘n biopsie wat geneem word, weggestuur word vir toetse en die terugvoer van ‘n formele diagnose, is gevolg.
Sy kon oor ‘n tydperk beleef dat elke persoon se ervaring en hantering van sulke nuus uniek is. Almarie het ‘n stille aanvaarding beleef en wou dadelik ‘n plan van aksie bedink. “Dit is ook my houding in die lewe,” verduidelik sy nugter.
“Dit is soos iemand wat in jou huis intrek wat jou lewe kom oorneem. Jy moet met hulle praat en aandag gee. Dit beinvloed jou hele lewe en jou huisgesin se lewe. Jy moet vrede maak met daai ding,” vertel Almarie.
‘n Sonar met ‘n naald en gidsdraad, wat aan die gewas haak, om die posisie presies te bepaal, is gedoen. Aangesien die kanker diepliggend, bo-op die borsspier geleë was, sonder infiltrasie van kliere, het Almarie ‘n mastektomie (verwydering) van die regterbors gekies. Terwyl sy daarna voorkomende chemoterapie ondergaan het, het vele mense met die beste bedoelings, ‘n Pandora se boks vol opsies en sieninge aangebied, wat mens opnuut verwar. “Jy moet jou eie pad deur ‘n massa inligting navigeer.”


Almarie moes elke keer tydens die chemoterapie haar seëninge tel, want sy was omring deur pasiënte wat vir hul lewens geveg het. Sy beskryf die newe-effek van die behandeling, al was dit vir haar voorkomend, was ‘n onbeskryflike en konstante gevoel van naarheid en ‘n progressiewe moegheid wat jou tot in jou siel toe stuit.
Sy is gelukkig omdat sy ‘n ondersteunende eggenoot in Danie, haar man van 33 jaar, het. “Die hele ondervinding het my diep geanker en ek kon werklik beleef dat ek nie alleen was nie, want die Here was by my. Ek het gereeld aan Daniël in die leeukuil of aan die dissipels wat op die boot in die storm was, en daardeur berusting gekry. Ek wou nie ‘n las vir my man of my kinders wees of iemand meer ontstel nie. Ek moes eers self vrede maak met die nuwe normaal,” vertel sy vol emosie.
Die moegheid en interne stryd het wel haar mede-reisiger op die pad geword, maar sy moes haarself dwing om met die vrou in die spieël, wat nie meer dieselfde lyk nie, vrede te maak. Haar kop was haarloos en haar liggaam het anders gelyk. Alles het haar gedwing om dieper te kyk en nie in die fisiese vas te kyk nie.
Tydens chemosessies is daar nuwe vriendskapsbande gesmee en selfs humoristiese gesprekke het deel uitgemaak van die nare ervaring. Die ouderdomsgapings van pasiënte maak ook dat mense die behandelingsopsies verskillend benader.
“Dit neem deursettingsvermoë om tot anderkant deur te druk. Ek het myself van sosiale geleenthede geisoleer omdat ek myself nie wou blootstel nie.”
Almarie beveel vroeë identifikasie van dié stille bekruiper sterk aan. Haar moeder het borskanker gehad en daarom gaan sy jaarliks vir haar mammogram. Hoe vroeër ‘n diagnose gedoen kan word, hoe minder van ‘n koste-implikasie volg vir die behandeling. “Moenie wag vir knoppe en tekens nie,” beveel sy ook aan.

Na ‘n paar maande van haar nuwe normaal dink Almarie, in retrospek, dat sy meer genadig met haarself kon wees deur nie altyd gedryf te moes voel nie. Sy wou nie in ‘n selfbejammeringsgat verval nie, maar weet dat sy haarself meer rus moes gun.
Sy erken die engele van haar gemeenskap, wie se vertroosting van onskatbare waarde was en steeds is. Almarie drink tans ‘n estrogeenonderdrukker, aangesien hormone kanker laat groei.
Ek besef nou dat die stryd vir oorlewing moeiliker was as wat ek op daardie stadium besef het. Dit neem tyd om jou ewewig terug te kry en jy weet dat jy genadig met jouself moet wees, want jy is nie meer die mens wat jy was nie. Daar is ‘n nuwe realiteit en jy kan nie maak asof niks gebeur het nie.”
Almarie is ‘n introvert wat soms teveel dink, maar sy begin nou om volledig Almarie te word. “Jy is so moeg dat jy net doen wat jy MOET doen, en dit is nie goed vir die psige as jy eintlik ‘n doener is nie. Ek word weer lus vir goed.”

Dit was ‘n verlossing om op 14 Maart 2024 die klok te lui om aan te kondig dat sy haar resies voltooi het. Danie en Almarie Kruger het die wedloop saam voltooi.
Post Views: 78