Koerania

Afrikaans vier in 2025 haar eeufees as amptelike taal.

Ons gebruik Afrikaans al vir honderde jare, maar op 8 Mei 2025 vier sy 100 jaar as amptelike taal. Ons skop op 8 Mei 2024 af met ’n jaar se plesierigheid tot 8 Mei 2025 wanneer die taal feestelik in die Paarl by die Taalmonument gevier gaan word.

Waarvoor wag jy? Teken die Afrikaans Amptelik 100-manifes en maak reg vir ‘n groot jol.

Almal is genooi!

MEER OOR AFRIKAANS 100

ʼn Wye en verteenwoordigende groep Afrikaanse organisasies, onder leiding van die Afrikaanse Taalraad (ATR) en Afrikaanse Taalmuseum en -Monument (ATM), stuur ʼn veldtog van stapel om Afrikaans se eeufees as ‘n amptelike taal te vier.

Dit is ʼn gekoördineerde poging van medewerkers en ondersteuners om ʼn inklusiewe feesjaar te vier wat Afrikaans in al haar variëteite, geure en kleure bymekaarbring en die belangrikheid van elke Afrikaanssprekende se rol in die voortbestaan van Afrikaans uit te lig.

Die inisiatief het die volgende doelstellings om hierdie mylpaal te gedenk:

  • Ons vier die bestaan van Afrikaans as amptelike landstaal as ʼn mylpaal binne haar baie langer bestaan, as ʼn groep mense wat lief is vir die taal.
  • Ons ondersteun Afrikaans as ʼn inklusiewe taal met ʼn diverse herkoms wat deur mense van alle rasse, etniese en kultuurgroepe gepraat en gebruik word.
  • Ons verbind onsself tot die groei van Afrikaans en gee trots erkenning aan die bydrae wat dit tot die Suid-Afrikaanse gemeenskap maak sonder om in politiek betrokke te raak.
  • Ons vier die bydraes wat Afrikaans op talle gebiede maak, soos die kunste, literatuur, onderwys, musiek en akademiese navorsing (om maar ʼn paar te noem).

VISIE & MISSIE

Om ʼn diverse gemeenskap van mense wat lief is vir Afrikaans in al haar variëteite te verenig, haar hele verlede te erken en saam eienaarskap te neem vir haar toekoms.
ʼn Inklusiewe feesjaar wat alle Afrikaans-sprekendes gelyke geleentheid bied om deel te word van die fees en die belangrikheid van elke Afrikaanssprekende se rol in die voortbestaan van Afrikaans uit te lig.

Afrikaans se honderdjarige bestaan as amptelike taal word in al haar diversiteit en in alle kontekste gevier:

  • Deur die ruimhartigheid van Afrikaans op nasionale en internasionale vlak aan almal wat betrokke wil wees, asook dié wat onverskillig staan, te illustreer.
  • Deur almal wat lief is vir Afrikaans te inspireer om haar sterkpunte en goeie hoedanighede te vier.

Verder erken en vier ons ook:

  • Afrikaans se diversiteit.
  • Afrikaans se verskillende maar versoenbare kontekste.
  • Die taal se ontstaansgeskiedenis en al haar positiewe mylpale in ʼn groot verskeidenheid omgewings.
  • Platforms wat geskep word vir gesonde debat oor die ontstaansgeskiedenis en die toekoms van Afrikaans.
  • Afrikaans se toekomsgerigtheid en voortgesette groei.
  • Afrikaans se konstruktiewe bydraes tot die Suid-Afrikaanse gemeenskap.
  • Die skep en vestiging van ʼn handelsmerk vir Afrikaans Amptelik 100. Ons moedig alle Afrikaanse organisasies, die media, skole, tersiêre instellings en individue aan om die geleentheid op eiesoortige wyse te vier, maar met die gekoördineerde identiteit van Afrikaans Amptelik 100.
Afrikaans amptelik 100
Die Taalmonument
Post Views: 119