Afrikaans is ons almal s’n.
Afrikaans vier in 2025 haar eeufees as amptelike taal
Ons gebruik Afrikaans al vir honderde jare, maar op 8 Mei 2025 vier sy 100 jaar as amptelike taal. Ons skop op 8 Mei 2024 af met ’n jaar se plesierigheid tot 8 Mei 2025 wanneer die taal feestelik in die Paarl by die Taalmonument gevier gaan word.
Waarvoor wag jy? Teken die Afrikaans Amptelik 100-manifes en maak reg vir ‘n groot jol. Almal is genooi!
DIE OORSIGKOMITEE
Die oorsigkomitee van Afrikaans 100, met Theuns Eloff (voorsitter: Dagbreektrust) as voorsitter en Michael Jonas (direkteur: Afrikaanse Taalmuseum- en Monument, Paarl) as ondervoorsitter, aan die stuur, is vroeër vanjaar gevestig. Ander persone op die komitee is Astrid de Vos, Diana Ferrus, Werner Human, Susan Lombaard, Karen Meiring, Sinki Mlambo, Hendrik Theys, Merlyn van der Rheede en Heindrich Wyngaard met Conrad Steenkamp en Ria Olivier as die sekretariaat.
Giep van Zyl, voormalige hoof van Aardklop, is onlangs aangestel as die nasionale koördineerder, met René Arendse, ’n bekende motiveringspreker en opleier van veral vroue-entrepreneurs, wat as nasionale adjunkkoördineerder aangestel is.
Daar is verder ook ’n span kundiges wat as domeinsameroepers met die reëlings gaan help. Onder hulle is kenners in die onderwys, die kunste, studentelewe, die sakesektor, die uitgewersbedryf en die media.
Tydens hierdie feesveldtog sal ons graag wil sien dat Afrikaans se bydraes op talle gebiede gevier word, soos die kunste, literatuur, drama, poësie, onderwys, musiek (lig en klassiek), akademiese navorsing en woordeboeke (om maar ’n paar te noem). Daarom nooi ons alle organisasies om hieraan deel te neem.