Koerania

Die eerste A tot Z Pekanneutkonferensie is van 23 tot 25 April op die pekanplaas, Dendron, net buite Orania, aangebied. Daar is met ywer gesprekke gevoer en aanbiedings deur kundiges gedoen om die pekanmark te voed. ‘n Kleurvolle paar uitstallers het hul kundigheid en kwaliteit produkte ten toon gestel en te koop aangebied.

Johan Coetzee en Francois Slabber het die voortou geneem om die reëlings vir die konferensie te tref, terwyl dr Ben de Klerk sy plaas vir die konferensie aangebied het en as programleier opgetree het.
Johan verbou Pekanneute op Grootdrink, naby Upington langs die Oranjerivier op die Boegoeberg Besproeiingsskema. Hy is trots daarop dat hy deur baie skoolgeld en ure se navorsing die ontdekking van alternerende snoei by pekanneute aan die bedryf kono bekendstel.

Hy verduidelik dit so: “Die doel van die “snoei” is om die alternerende drag van Pekans te verminder sodat daar ‘n meer egalige oes sonder dowwe neute in die aanjaar verkry kan word.”

Dié drie menere is dankbaar vir ‘n gemoedelike en gasvrye atmosfeer wat tydens die A tot Z Pekanneutkonferensie geheers het. Hulle vind dit moeilik om ‘n gunsteling spreker uit te lig aangesien hulle saamstem dat die sprekers inligting gedeel het wat van uiters hoë gehalte was. Volgens kommentaar van boere wat die konferensie bygewoon het, was dr Ronel Hendriks se aanbieding oor biologiese produkte ‘n treffende en uiters leersame aanbieding.

Francois is ‘n verskaffer van biologiese produkte aan die pekanprodusente en gee raad oor organiese verbouing op ‘n konsultasiebasis. Die terugvoer wat hy direk ontvang het was dat konferensiegangers die inligting behulpsaam gevind het, dat die formaat goed gewerk het en dat paneelbesprekings waardevol was. Vir hom het die aanbiedings van dr Elmi Lötze en dr Ronel Hendriks byval gevind aangesien di took temas is wat hom interesseer. “Hulle aanbiedings was uitstaande.”

Francois en Johan gesels dat die Pekanbedryf nog in sy kinderskoene staan, en dat daar nog geweldig baie oor die verbou van pekans geleer moet word. “Om die mark te ontwikkel moet daar met mekaar gepraat word en kundigheid onderling gedeel word. Geen boer kan op ‘n eiland werk nie,” sê hulle.

Die ontwikkel en verbetering van toerusting en implimente is ‘n proses wat slegs met terugvoer van boere en fabrikante kan geskied. Ben, Johan en Francois is reeds besig om te broei oor die konferensie vir 2025, en beklemtoon dat daar reeds ruimte sal wees vir 400 mense om dit by te woon.

Vanjaar se ongeveer 277 persone het ook landboustudente van die BKO-opleidingsentrum in Orania ingesluit. Alhoewel daar min kans was vir konferensiegangers om honger of dors te word het Oraniërs die stalletjies vir eet- en drinkgoed opgeneem en gesorg dat niemand ‘n tekort het nie.

“Die konferensie het die potensiaal om jaarlikse ‘n gesogte geleentheid op die pakenneutkalender te word,” beaam die organiseerders.

Post Views: 98