“Mens moet jou geskiedenis verstaan, anders verstaan jy nie jou mense nie.” Só vertel prof. Jackie Grobler, een van ons land se mees gevierde historici toe hy op 29 Augustus by die Voortrekkermonument (VTM) kom kuier het om ’n lesing aan te bied oor die Rebellie van 1914.
Hierdie lesing is deur die Erfenisstigting (ES) aangebied, wat gereeld hierdie tipe projekte aanpak om broodnodige bewusmaking te kweek oor die belangrikheid van geskiedenis en erfenisbewaring.
Groot geeste uit die Afrikaanse kultuurwêreld, soos dr. Pierre Edwards, voormalige hoof van die Afrikaanse Hoër Seunskool, die hoofleier van Die Voortrekkers, Karin Stofberg en Flip Buys, uitvoerende hoof van die Solidariteit Beweging was onder die gehoor.
Lizette Jansen, bestuurder van die ES, sê sy hoop dat hierdie praatjie mense inspireer om hul eie geskiedenis te leer ken én daarop te begin bou.
“Vanjaar is dit die 110de herdenking van die 1914-Rebellie daarom het ons dit goedgedink om prof. Grobler te nooi om dié belangrike historiese gebeurtenis te herdenk,” sê Jansen.
“Dié Rebellie is redelik onderbeklemtoon in vergelyking met gebeurtenisse soos die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog en ek kan nie aan iemand meer kundig dink om ’n nuwe lig hierop te laat skyn as prof. Grobler nie.”
Grobler was jare lank ’n geskiedenislektor verbonde aan die Universiteit van Pretoria én het ook al gedien op die direksie van die VTM.
Tydens die lesing, getiteld Die Afrikaner-rebellie van 1914 in die konteks van protesbewegings van die Afrikanergemeenskap het prof. Grobler gefokus op verskeie eras uit die Afrikanergeskiedenis, naamlik 1795, na wie hy verwys as die Patriotte, die Voortrekkers van 1835 tot 1848, die Transvalers van 1880 tot 1881 én die Afrikaners van 1914.
“Of mens wil of nie, ons is almal nageslagte van mense, mense wat verskillende goed gedoen het en daarom móét ons kan terug kyk na die lewe van dié mense om meer te leer oor hulle, onsself en die wat na ons gaan kom,” sê Grobler.
Rebellie, opstand of betoging, het Grobler vertel, het ’n groot impak in die geskiedenis van die Afrikaner gehad.
“Waarop het die vier rebellies uitgeloop?” stel hy die vraag:
Voor die Groot Trek het die grensboere se “rebellie” gelei tot die verval van die sogenaamde Republieke van Swellendam en Graaff-Reinet, tóg, vertel hy, het die vryheidsdroom voortgeleef. “Dit het natuurlik gelei tot die Groot Trek en die stigting van die Boererepublieke.”
Later het die Afrikaneropstand gelei tot die Eerste Vryheidsoorlog en die herstel van die Zuid-Afrikaansche Republiek.
“Die Rebellie van 1914 het misluk, maar was vir die regering ’n Pyrrhiese oorwinning wat gelei het tot ’n groter sosio-kulturele rewolusie – Die Vroueoptog van 1915, die stigting van die Helpmekaarbeweging – en het as ’n stimulus vir Afrikaanse letterkunde gedien.”
Die eeueoue uitdrukking lei “as jy nie weet waar jy vandaan kom nie, sal jy ook nie weet waarheen jy op pad is nie”, en hierdie lesing van prof. Jackie Grobler het net weer bewys hoe belangrik dit is om mens se geskiedenis te ken, te bewaar en te onderhou.